Die polisie is bekommerd Marli van Breda sal nooit genoegsaam herstel om vir hulle te vertel wat gebeur het die nag toe haar gesin vermoor is nie.

Volgens die Sunday Times is die breinbeserings wat die 16-jarige meisie in die grusame bylaanval opgedoen het, van so ’n ernstige aard dat daar gevrees word sy sal miskien permanente breinskade hê. Sy is egter wakker en toon emosie.

Marli het ’n bylwond aan haar kop opgedoen en haar nekslagaar is afgesny.

Die polisie vreesdat, hoewel haar toestand verbeter, sy miskien nie genoegsaam sal herstel om aan hulle ’n volledige verslag te gee oor wat die nag tydens die aanval gebeur het nie.

Paramedici

Die koerant berig ook die drie paramedici wat Marli op die toneel behandel het en wat haar ouers, Teresa en Martin, asook haar oudste broer, Rudi, dood verklaar het, het nog nie teruggekeer werk toe nie. Hulle is ernstig getraumatiseer en ontvang steeds berading.

Haar jongste broer, Henri, 20, het oorleef.

Daar word ook berig dat Marli emosies toon, alhoewel sy nog nie kan praat nie.

Ben Rootman, woordvoerder vir die gesin, het aan die koerant bevestig dat sy tekens van vooruitgang toon.

“Daar is beweging aan albei kante van haar liggaam, sy toon emosie en sy herken nabye familie op gesinsfoto’s.”

Marli, wat steeds geen besoekers mag ontvang nie, is onlangs uit die hoësorgeenheid na haar eie kamer verskuif.

Selfs Henri word nie by haar toegelaat nie.