[caption id="attachment_136333" align="alignnone" width="1024"]Henri van Breda stap na die beskuldigde bank in die hof in Kaapstad. Henri van Breda stap na die beskuldigde bank in die hof in Kaapstad.[/caption]

Dié nie-winsgewende organisasie staan dikwels howe by om beskuldigdes te evalueer en wanneer ’n beskuldigde na Nicro verwys word, stel hulle ’n verslag saam wat aandui hoe geskik iemand is om deel te neem aan die ingrypingsprogramme wat hulle aan oortreders bied.

“Wanneer ons ’n persoon evalueer doen ons ’n volledige evaluasie wat in-diepte na die persoon kyk – sy geskiedenis (die konteks van sy gedrag) en die gedrag self.

“Ons fokus op die oorsaak van die gedrag en kyk dan na die verskeie risiko-faktore wat hiertoe bydra,” verduidelik Arina Smit, die bestuurder van Nicro se kliniese eenheid.

“Ons probeer ook verstaan hoekom die beskuldigde so optree om te bepaal hoe ons kan ingryp om te help om sy gedrag aan te pas en hom te rehabiliteer. Hoe die persoon funksioneer word ook op elke vlak ondersoek – sielkundig, wat gedrag aanbetref, sosiaal, opvoedkundig en geestelik.”

Henri en sy meisie, Daniellé Janse van Rensburg, het Woensdag saam opgedaag by die Kaapse landdroshof, waar albei aangekla word van dwelmbesit. Die saak is verlede week weens ontbrekende dokumentasie uitgestel.

Die polisie in Table View het die paartjie verlede maand vir die beweerde besit van dagga in hegtenis geneem.

Henri is oornag aangehou en op borgtog van R1 000 vrygelaat. Daniellé is op die aand van haar inhegtenisneming op borgtog van R200 vrygelaat.

Sy het glo met haar eerste hofverskyning aan die hof gesê die dagga was hare.

Henri (21) is tans uit op borgtog van R100 000 nadat hy aangekla is van die moord op sy ma, pa en broer by hul huis op Stellenbosch in 2015.

Tikverslawing vermoed

Hy het in September vir ’n voorverhoor verskyn. Hy staan onder meer tereg vir die byldood van sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en sy broer, Rudi (22). Die voorval het in die vroeë oggendure op 27 Januarie 2015 by hul huis op die De Zalze-gholflandgoed plaasgevind.

Voorheen is berig Henri was glo verslaaf aan tik, ’n dwelmmiddel wat dikwels met sporadiese gewelddadige gedrag verbind word.

Hy het na bewering tyd in ’n rehabilitasiesentrum deurgebring.

Sy bloed is nie ná die aanval op sy gesin getoets nie.

Narita du Toit, Henri se een tannie, het voorheen aan Huisgenoot gesê die gerugte dat Henri dwelms gebruik en in ’n rehabilitasiesentrum en psigiatriese kliniek was, is onwaar.

Die saak is uitgestel tot 11 April.

Bron: News24