’n Steelfoto wat iemand aan Huisgenoot gestuur het, wys hoe die vervaardigers van die gewilde kykNET-sepie Suidooster ’n begrafnistoneel skiet.

Dit volg na kykers net verlede week moes toekyk hoe ’n huilende Jerome October (Danny Ross) by die hospitaal opdaag om die nuus aan AB (Cedwyn Joel) en Rhafiek Samsodien (Irshaad Ally) oor te dra dat Mymoena (Jill Levenberg) in ’n ernstige motorongeluk was.

Beteken die feit dat Suidooster nou ’n begrafnistoneel skiet dat Mymoena gaan sterf? Haar lewe hang immers aan ’n draadjie en nou is sy boonop in ’n geïnduseerde koma ook!

Hier is die betrokke foto:

[caption id="attachment_164964" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Van wat Huisgenoot kan aflei, is die foto by ’n Kaapse begraafplaas geneem en volgens die leser wat dit ingestuur het, was daar ’n “miernes van bedrywighede met klomp kameras en ander toerusting” op die toneel.

In die verte kan van die akteurs, insluitend Jerome, Michelle (Greta Pietersen), Nicci (Gerwen Simon) en Stefan (Gideon Lombard), net-net uitgeken word.

Dit laat die groot vraag: Wie word begrawe? In hierdie stadium sal dit die meeste sinmaak dat dit Mymoena is, maar daar is altyd die moontlikheid dat Bianca se pasgebore baba, Stella, siek geword het.

Jill het onlangs talle foto’s van haar op stel van die fliekweergawe van Ellen Pakkies se verhaal in die sosiale media gedeel, wat net die gerugte aanblaas dat sy Suidooster binnekort verlaat.

By navraag het die aktrise net gesê sy word kontraktueel verbied om enige kommentaar te lewer op Suidooster se storielyn.

Op sy beurt het Wilmer Müller, Suidooster se publisiteitsbestuurder, ook gesê hy kan ongelukkig ook nie lig op die onderwerp werp nie.

“Al wat ons kan sê, is dat een van ons mees dramatiese storielyne besig is om te ontvou en dit gaan kykers vasgenael voor die kassie hou.”

Hy het ook sy ontsteltenis uitgespreek dat die steelfoto enigsins aan die media gestuur is.

“Dit gaan binne die volgende twee weke meer duidelik word wat gebeur het,” het Wilmer wel bevestig.

Een ding is seker: Dit lyk asof kykers maar solank die snesies sal moet regkry!