TOE hulle klein dogtertjies was, was hulle so identies dat hul eie pa hulle nie eens kon uitken nie. Hulle het oral saamgegaan en die een was ’n spieëlbeeld van die ander.

Byna 70 jaar later is die twee susters steeds ’n spieëlbeeld van mekaar, “daar is nou net 40 kg meer van my”, skerts Anna Beetge.

Anna en haar suster, Tia Rogers, het onlangs hul 70ste verjaardag gevier. Ná al die jare is hulle steeds beste vriendinne, sien hulle mekaar omtrent elke dag (hulle bly sowat ’n kilometer van mekaar af in Centurion) en kan hulle steeds onophoudelik gesels, veral oor “lappe, materiale en wolle”. Hulle voel selfs mekaar se pyn, sê Tia, want as Anna rugpyn het, voel Tia dit ook.

“En soos dit met ’n tweeling gaan, het Tia gister haar regterarm met haar yskas seergemaak. Vandag het my kat my op dieselfde plek op my regterarm gebyt,” sê Anna.

Die liefde vir naaldwerk het hulle by hul ma gekry, ’n vrou was “wat ons geleer het om te werk”. Nadat hulle hul hoërskoolloopbane op Musina in Limpopo voltooi het, het hulle ’n rukkie lank in Polokwane, wat destyds Pietersburg was, gaan verpleeg. Dit was vir hul pa te erg om sy twee meisiekinders so ver van die huis af te hê en hy het vir albei werk gekry in Barclays Bank op Musina.

Susters3

Die susters het saam huis opgesit, elkeen het ’n man ontmoet en is op dieselfde dag in 1963 getroud. Vir die eerste keer in hul lewens het hul paaie geskei. Anna en haar man, ’n bankklerk, is van dorp tot dorp verplaas. Tia het eers vir ’n tyd op Musina gebly voor sy en haar man, ’n myner, Phalaborwa toe getrek het. In ’n stadium het Anna en haar man ook Phalaborwa toe getrek, waar hulle uitmekaar is. In dié tyd het Anna se man een middag hul twee seuns, wat vier en 11 jaar oud was, kom haal. Haar man het toe onder ’n bus ingery en die seuns is albei dood. Die dokter het Tia uit die rolprentteater gaan haal om die nuus aan haar suster oor te dra.

“Ek het twee maande lank by Tia gaan bly. As dit nie vir haar was nie, het ek dit nooit gemaak nie,” sê Anna.

Tia sê in dié tyd het hulle geleer om saam te bid.

Ná die tragedie het Anna haar tweede man, Danie, ontmoet. Hulle is al 36 jaar getroud en het twee dogters, wat albei in Pretoria woon.

Tia en haar man is ook intussen geskei en sy het sowat 10 jaar gelede na Centurion getrek om naby haar sus te wees. Tia se drie kinders bly onderskeidelik in Australië, Durban en Johannesburg.

Wanneer jy hulle vra oor vassit, onthou hulle vaagweg een keer toe hulle vyf jaar oud was en hulle ma hulle met ’n vadoek geraps het omdat hulle baklei het. “En dan was daar een keer ná skool dat ons vasgesit het omdat die een nie van die ander een se kêrel gehou het nie. Maar eintlik het ons bitter min baklei,” sê Anna.

EEN keer per week help die susters by die Centurion Hospies. Hulle het hier betrokke geraak nadat hul broer, Hennie Strydom (60), ’n paar jaar gelede dermkanker gekry en die hospies baie vir hom gedoen het. Die susters het toe betrokke geraak “as ’n manier om terug te gee”, sê Anna.

Die res van die tyd doen Tia naaldwerk of sy kuier by Anna, wat nog haar eie huiswerk doen. Dan loop die susters saam in die tuin rond. Tia kan gewoonlik nie haar hande uit die grond hou nie, terwyl Anna eerder die tuinslang rondsleep. Hulle gaan loop ook graag in klein winkeltjies rond.

Susters2

“Dis juis omdat ons werk en besig is dat ons nog so gesond is. As jy gaan stilsit en niks doen, gaan jy sommer dood. Dit is net genade wat ons so ver gekry het,” sê Anna.

Deur Hilda Fourie

Foto: Dino Codevilla