Die minister van vervoer, Dipuo Peters, het aangekondig 1 376 mense is in die feestyd op Suid-Afrikaanse paaie dood. Maar die syfer is verkeerd, het ’n maatskappy wat gevorderde bestuursvernuf bevorder Donderdag gesê.

“Tussen 1 en 31 Desember was die sterftesyfer 1 184,” het die besturende direkteur van www.driving.co.za, Rob Handfield-Jones, in ’n  verslag gesê. “Dis 38,19 sterftes per dag.”

“Tog beweer die regering in die volgende sewe dae was daar 192 bykomende sterftes, teen 27,14 sterftes per dag. Hoe is dit moontlik dat die daaglikse sterftesyfer ’n een derde kon val?”

Dipuo het aan verslaggewers in Pretoria gesê 1 376 mense is tussen 1 Desember en 7 Januarie in 1 147 ongelukke gedood.

Die woordvoerder van die departement, Tiyani Rikhotso, het gesê Rob moet sy beweringe met wetenskaplike bewyse ondersteun. Mense bring gewoonlik Kersfees en Nuwejaar op verskillende plekke deur, wat verkeerspatrone verander. Mense hou ook nie almal ewe lank vakansie nie, het hy gesê.

“Die getal ongelukke hou lynreg verband met die getal voertuie op ons paaie. Ek kan nie sien op watter basis hy die statistiek bevraagteken nie.”

Hy het gesê die getal ongelukkie sal afneem namate die getal voertuie op die paaie verminder.

Volgens Rob is die data van die 2012/’13-feestyd ook verdraai.

Hy het gesê as die daaglikse sterftesyfer van Desember gebruik word, sal die ware sterftesyfer nader aan 1 450 wees. Dit sal waarskynlik hoër wees as die komende naweek se vakansieverkeer in ag geneem word.

Die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) is glo byna drie jaar agterstallig met sy jaarlikse statistiek. Dit het nog nie die finale sterftesyfer van die 2012/’13-feestyd uitgereik nie.

“Vandag (Donderdag) se aankondiging kan nie beskou word as meer as ’n publisiteitsfoefie nie,” het Rob gesê.

Volgens Dipuo is die uitgereikte syfers voorwaardelik. Die RTMC was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

– Sapa