Hul eie verhaal klink soos iets uit ’n sepie: In hul motorhuis begin ’n jong paartjie met ’n TV-produksiemaatskappy.

Hulle het groot drome, heelwat ondervinding, maar min geld.

En soms gaan dit so broekskeur dat hulle hul intekening op die koerant moet kanselleer.

Maar vandag is Frederich en Elsje Stark sekerlik die magtigste TV-egpaar in Afrika – jy kan hulle trouens ons eie Spellings noem.

Sedert 1985 toe hulle met Stark Films in hul motorhuis in Blairgowrie, Johannesburg, begin het, het hulle dit tot ’n magtige TV-ryk met ’n personeel van 200 en ’n splinternuwe spogateljee uitgebou.

Oor die hele Afrika en selfs tot in Jamaika en Brittanje sit miljoene kykers elke weekdag vasgenael en kyk Generations, die sepie waarmee hulle hul groot deurbraak gemaak het. En weekaande skakel 70 persent van die beskikbare kykers in Suid-Afrika (5,7 miljoen) – ’n syfer wat wêreldwyd feitlik ongekend is – in op SABC1 om die sepie te kyk.

Dié plat-op-die-aarde paar is nie net medevervaardigers van Generations nie, hulle is ook die ma en pa van Binneland Sub Judice, ons eerste uur lange sepie wat sedert April op M-Net wys.

“Generations is naas Egoli die oudste sepie wat plaaslik uitgesaai word,” vertel Frederich. “En met Egoli op ’n einde sal dit volgende jaar die oudste wees.”

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 23 September 2010