“Nog nooit het ek daai woorde ge-uiter nie,” het Sunette op haar Twitter-profiel geskryf met ’n skermgreep van ’n WhatsApp-gesprek tussen haar en die minister van sport en ontspanning, Fikile Mbalula. In die skermgreep vra Sunette die minister wanneer sy haar R70 000 prysgeld vir die Olimpiese Spele gaan kry. Hy antwoord en sê: “Jy’t dan gesê jy soek dit nie?”

“Dit is hoe jy behandel word as jy ’n Olimpiese medalje wen,” skryf sy verder. “Dit is ’n skande. Ek moet maar altyd op my eie goed doen.”

Nadat Huisgenoot na Sunette het haar lewensmaat, Li-Mari Louw, uitgereik het, het hulle laat hoor dat Sunette moedeloos is en nie onderhoude wil toestaan nie.

“Sy is die enigste atleet wat kla daaroor en ons vermoed sy is dalk die enigste atleet wat ook nie betaal word nie.

“Sy wil nie meer daaroor praat nie. Dit is die heeltyd ’n gesoebat en ’n gesmeek en daar kom niks daarvan nie.

“Sy wil net graag betaal word,” sê Li-Mari.

Die departement van sport en ontspanning kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.