Die sage rondom die omstrede Gupta-familie, nabye vriende van president Jacob Zuma, en hul pogings om Suid-Afrikaanse banke te dwing om hul opnuut as kliënte te aanvaar, is vandag weer in die kollig ná Standard Bank ’n onthullende beëedigde verklaring by die Pretoriase-hooggeregshof ingedien het.

In April het verskeie Suid-Afrikaanse banke, die ouditeursfirma KPMG en Sasfin (die maatskappy se aandelebeursborg) hul bande met die Guptas verbreek en sedertdien het hooggeplaastes van Oakbay (die Gupta-sakeryk se moedermaatskappy) druk op Pravin Gordhan, die minister van finansies, geplaas om die banke te oorreed om weer met hul sake te doen.

Ná hy keelvol geraak het van herhaaldelike pogings om hom te dwing om in te meng, het Gordhan in Oktober die hooggeregshof gevra om te verklaar dat hy nie die mag het om sakeverhoudinge tussen die banke en die Guptas te besleg nie.

Hy het sy onwilligheid om hierby betrokke te raak gestaaf met ’n lys van R6,8 biljoen se verdagte transaksies in die Guptas se sake-rekeninge.

Business Live berig dat die verklaring wat Standard Bank (as ’n respondent in dié saak) vandag by die hooggeregshof ingedien het, lig werp op hoe hooggeplaastes in die regering en grootkoppe by Oakbay met dié bank vergader het in ’n poging om politieke druk op hul uit te oefen om die Gupta-sakeryk goedgesind te wees.

Ook is onthul dat Oakbay ’n internasionale aandeelhouer van Standard Bank glo genader het en aangevoer het dat dié bank onwettig met ander banke saamgesweer het om Oakbay se rekeninge te sluit en dat hul beweegredes rassisties was.