Toe ’n motor hom van agter teen 120 km/h tref, het Hendro Olivier (toe 16) nie gedink sy lewe gaan in ’n oogwink verander nie. Hy het ’n spinale besering opgedoen by sy T3- en T4-werwels. Nou, twee jaar later, is dié parapleeg sowat 98 persent onafhanklik van enige vorm van bystand.

Hendro was kort ná tweeuur die middag met sy motorfiets van sy skool na sy huis in Vaalpark, Sasolburg, op pad toe ’n motor hom van agter tref waar hy stilgehou en vir die verkeer gewag het. Op die toneel het die werklikheid hom reeds in die gesig gestaar: Hy kon nie sy bene voel nie en die pad vorentoe begin nou eers . . .

Hendro het vier maande lank in die waakeenheid van die hospitaal gelê en ook tyd in die rehabilitasiehospitaal in Auckland Park deurgebring.

Hy het die dag toe hy huis toe gaan, geen gevoel van sy bors ondertoe gehad nie.

“Gelukkig het Hendro geen hoofbeserings gehad nie en het hy volle gebruik van sy arms gehad,” vertel sy pa, Deon Olivier, per e-pos. Hendro het wel geen beheer oor sy blaas en maag gehad nie.

Ná die ongeluk het hulle van ’n vrou gehoor wat na China gereis het vir stamselbehandeling en daarna kon sy met krukke loop. Dis toe dat die Olivier-gesin op die internet begin navors het oor die stamselbehandeling.

Hulle het op die Chinese mediese instansie Wu Stem Cells Medical Centre in Beijing afgekom wat belowend geklink het.

Ná korrespondensie met die sentrum het hulle begin geld insamel om Hendro in China te laat behandel. Sowat R110 000 is ingesamel, maar twee maande later het een van Deon se kollegas hom vertel van dié se huisdokter wat ook navorsing doen oor stamselle.

Lees ook: 29-jarige met Downsindroom verloor byna 50 kg in ongelooflike transformasie

Deon het toe met dr. Walter Bell in verbinding getree en dié het aangebied om Hendro te behandel teen ’n fraksie van die kostes.

Dr. Bell kon egter niks waarborg nie aangesien sy navorsing nog in ’n eksperimentele fase was. Deon-hulle het besluit om die kans met albei hande aan te gryp.

Tesame met die hoofwetenskaplike by die BioHart-instansie in die VSA, dr. Christian Conella, het die twee dokters by dr. Bell se stamselkliniek op Parys in die Vrystaat stamselle in die vetlaag om Hendro se maag geoes.

[caption id="attachment_125048" align="alignnone" width="600"]Voor: Hendro se ma Charmain, Hendro, Hendro se pa Deon. Agter: Dr. Walter Bell, dr. Christian Conella, dr. Harmse en dr. Gouws. Foto: Verskaf Voor: Hendro se ma Charmain, Hendro, Hendro se pa Deon.
Agter: Dr. Walter Bell, dr. Christian Conella, dr. Harmse en dr. Gouws.
Foto: Verskaf[/caption]

Hierdie stamselle is toe gewas en in ’n broeikas geplaas om te groei en slegs twee uur ná die oes het dr. Bell sowat 106 000 stamselle met ’n naald in Hendro se rugmurg teruggeplant. Die inplanting is soortgelyk aan ’n lumbale punksie en word gedoen op die beseerde area.

Byna twee weke later is sewe miljoen stamselle by Hendro ingeplant. Oor ’n tydperk van agt maande het hy altesaam agt behandelings ontvang.

“Hendro het prikkels soos dié van naalde en spelde in sy bene begin voel,” vertel Deon oor sy 18-jarige seun se eerste verbetering.

Lees ook: Dié broer en suster gaan nooit weer kan slaap weens ’n seldsame en ongeneesbare breinsiekte

Nou het hy “gevoel en gebruik van sy spiere tot by sy maag”.

[caption id="attachment_125054" align="alignnone" width="600"]Hendro en sy metgesel by hul matriekafskeid verlede jaar. Foto: Verskaf Hendro en sy metgesel by hul matriekafskeid verlede jaar. Foto: Verskaf[/caption]

Die verbeterings is gering, sê Deon, maar dit gee hulle hoop.

“Voorheen het hy geen reaksie gehad as jy met jou vinger of ’n pen onder sy voete sou trek nie. Ná die behandeling is daar nou reaksie, hoewel hy dit steeds nie kan voel nie.”

Met genoeg konsentrasie kan Hendro sy groottone beweeg en kan hy nou soms ook voel wanneer hy badkamer toe moet gaan.

Hy is g’n gekluister in sy rolstoel nie – sy ouers het ’n Volkswagen Polo met ’n outomatiese ratkas vir hom gekoop waarin hy rond kan ry, onder andere na die telemaatskappy waar hy deesdae werk.

[caption id="attachment_125055" align="alignnone" width="600"]Hendro by sy matriekafskeid verlede jaar. Foto: Verskaf Hendro by sy matriekafskeid verlede jaar. Foto: Verskaf[/caption]

Die voertuig is aangepas sodat Hendro dit self kan bestuur met behulp van handkontroles.

Hy kuier gereeld saam met sy vriende en gaan elke dag na die gimnasium toe soos enige ander tienerseun, sê sy pa.

Die pad na herstel lê nog voor hom, maar Hendro sien kans.

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly

Nutella, Nike, Huawei: handelsname wat jy waarskynlik al die tyd verkeerd uitspreek

Sterre in futuristiese robot-pakke, lateksrokke laat die koppe draai by vanjaar se Met-gala

Sadag-hulplyn: Dis hoe ’n vriendelike, empatiese stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn iemand se lewe kan red

Kry só daardie salarisverhoging wat jy al lank voor wens