Suid-Afrikaners het landwyd hul asems opgehou na die beslissing in die Noord-Gautengse hooggeregshof vroeër vandag dat adv. Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se verslag oor sogenaamde staatskaping teen vanmiddag 17:00 bekendgemaak moet word.

President Jacob Zuma het in ’n skokwending sy aansoek om die vrystelling van die verslag te kniehalter, teruggetrek. Dit is egter ’n lywige verslag van 355 bladsye en as jy nie ’n regsgeleerde is nie, kan die tegniese detail jou dalk oorweldig.

Die Demokratiese Alliansie het aanvanklik die openbare beskermer se kantoor formeel in Maart gevra om die beweringe van staatskaping en die president se bande met die omstrede Gupta-familie te ondersoek en volgens dié party is die volgende die belangrikste beweringe en bevindinge in die omvattende dokument:

1. President Jacob Zuma het die Gupta-familie en sy seun, Duduzane, op ’n onbehoorlike wyse toegelaat om in te meng met die afdank en aanstel van die minister van finansies in Desember 2015 en sodoende die uitvoerende etiekkode oortree;

2. Die Gupta-familie (by name die broers Ajay, Atul en Rajesh) het Mcebisi Jonas, die adjunkminister van finansies, die ministerspos aangebied in ruil daarvoor dat hy hul sakebelange sou help bevorder;

3. Selfoonrekords toon aan minister Des van Rooyen (tans die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede) wat verlede jaar vir vier dae Suid-Afrika se minister van finansies was, het die Guptas se familiewoning in Saxonwold, Johannesburg, minstens sewe keer voor sy aanstelling op 9 Desember 2015 besoek. Na president Zuma dié skokaanstelling gemaak het, het ons finansiële markte beduidende verliese gely en hy moes onder openbare druk swig en vir minister Pravin Gordhan in sy ou pos aanstel;

4. Tussen 2 Augustus verlede jaar en 22 Maart vanjaar het Brian Molefe, die hoof van Eskom, 44 keer vir Ajay gebel en hy het Brian 14 keer gebel. Die verslag sê hierdie verhouding is kommerwekkend, gegewe die staatskontrakte wat Eskom met maatskappye met Gupta-bande aangegaan het en noem ook die aanstelling van Eskom se raad “onbehoorlik”;

5. Toe die oud-parlementslid, Vytjie Mentor, se bewerings rugbaar word dat die Gupta-familie haar ’n ministerspos aangebied het, het president Zuma die uitvoerende etiekkode oortree omdat hy nie dié aantygings ondersoek het nie;

6. Eweneens toe Themba Maseko, die regering se voormalige hoof van kommunikasie- en inligtingstelsels, beweer het hoe hy sy werk verloor het toe hy nie die Gupta’s wou help met regeringsadvertensies in hul The New Age-koerant nie;

7. Ook die ooglopende nabye verhouding tussen Brian en die Gupta’s moes die president tot aksie genoop het, meen die verslag’;

8. Die president en ander ministers het onbehoorlik ingemeng toe Suid-Afrika se banke geweier het om verder met die Gupta-familie sake te doen;

9. Dit was onbehoorlik van Zuma en strydig met die uitvoerende etiekkode om sy posisie as staatshoof te gebruik om homself, Gupta-maatskappye en sy seun, Duduzane te verryk met die toekenning van staatskontrakte, finansiering en lisensies om handel te dryf;

10. Mosebenzi Zwane, die minister van minerale hulpbronne, se besoek aan Switserland saam met afgevaardigdes van die Gupta-familie om die omstrede magnate by te staan om die Tegeta-myn te bekom, was onbehoorlik;

11. Regeringsadvertensies is doelbewus aan die Gupta-familie se The New Age-koerant toegeken;

12. Zuma se onvermoë om al hierdie beweringe te ondersoek en daarteen op te tree, mag beteken dat hy in sy wetlike plig as president gefaal het.