In Spanje – die land wat bekend is vir stiergevegte, sokker en siëstas – is ’n stokkiesdraaiende staatsamptenaar onlangs ’n hewige boete opgelê.

Joaquín García (69) het in 1990 vir die plaaslike owerheid in Cádiz begin werk. In 1996 is hy as toesighouer aangestel by ’n waterbehandelingsaanleg in Cádiz.

Maar Joaquín het nie sy toesighouersverantwoordelikhede te ernstig opgeneem nie; hy het ses jaar lank nie werk toe gegaan nie. Dis moontlik dat hy sy werkplek eintlik 14 jaar lank vermy het, maar net ses jaar daarvan kan bewys word.

Lees ook: Eend of konyn? Watter een jy sien, verklap baie oor jou

Joaquín se verskoning is daar was nie genoeg werk by die aanleg om te doen nie. Boonop het sy medewerkers hom ook glo geboelie oor sy familie se sosialistiese politiekery.

Eers toe Joaquín ’n prys vir 20 jaar se lojale diens moes ontvang, het mense volgens die adjunkburgemeester, Jorge Blas, besef alles is nie pluis nie.

“Ek het gewonder: Waar is hierdie man? Is hy nog hier? Het hy afgetree? Is hy dood?”

Jorge het Joaquín gebel en gevra wat hy die dag vantevore of die maand of twee tevore gedoen het. “Hy het nie geweet wat om te sê nie.”

Lees ook: Hond word liederlik deur sneeubal gefnuik

Joaquín se medewerkers was ewe deur die blare. Hulle het gedink die aanleg word deur plaaslike owerhede bestuur omdat hulle Joaquín so lank laas gesien het.

Tussen alles deur het Joaquín egter nie vergeet om sy salaris elke maand te ontvang nie. Vandeesweek het ’n hof Jaquín met sowat R477 000 vir “onbetaalde vakansie” beboet.

Bronne: bbc.co.uk, huffingtonpost.com, theguardian.com

Lees ook op Huisgenoot.com:

Al die Grammy-wenners vir 2016

Leonardo DiCaprio en Maggie Smith se oulike soenkamera-oomblik

Kantoorchaos kom tot ’n einde danksy ‘slim’ stoele