Die staat sal na verwagting sy saak in Oscar Pistorius se verhoor vroeg volgende week sluit.

Adv. Gerrie Nel, die staatsaanklaer, het regt. Thokozile Masipa vanmiddag net voor middagete gevra om die saak tot Maandag uit te stel.

Gerrie het gesê die staat wil nog “vier of vyf” getuies roep en sal moontlik vroeg volgende week hul saak sluit. Tog moet die staat nog met die getuies konsulteer, en omdat Vrydag ’n vakansiedag is (wat maak dat hierdie naweek ’n langnaweek is), moet die konsultasies voor die naweek plaasvind.

Gerrie het verder gesê dat die staat net alles wil nagaan en seker maak daar is niks wat hulle uitgelaat het nie.

Dit kom nadat die staat vanoggend drie forensiese kenners se getuienis afgehandel het.

Daar is getuig oor die vuurwapen en die skote, die bloedspatsels en inligting wat van Oscar se twee iPads afgelaai is.

Van die laaste webtuistes wat die aand voor Reeva Steenkamp se dood besoek is, is ’n webblad waar ’n mens gratis pornografie vir ’n selfoon kan aflaai.