Die staat het Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria sy saak in die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se vonnisverrigtinge gesluit.

“Die saak vir die staat rakende vonnisoplegging is gesluit,” het die aanklaer, Gerrie Nel, gesê.

“Ek stel voor dat ons tot môre verdaag en dan argumente voorlê.”

Die staat het twee getuies in die vonnisverrigtinge geroep – Reeva Steenkamp se niggie Kim Martin en die waarnemende nasionale kommissaris van korrektiewe fasiliteite, Zach Modise.

Die verdediging het vier geroep – Oscar se sielkundige, Lore Hartzenberg, sy bestuurder, Petrus van Zyl, die maatskaplike werker vir die departement van korrektiewe dienste Mashaba Joel Maringa en die maatskaplike werker en toesigbeampte Annette Vergeer.

Argumente sal na verwagting Vrydagoggend om halftien begin.