“Die minimum vonnis waarmee die samelewing gelukkig sal wees, is 10 jaar,” het die aanklaer Gerrie Nel gesê.

“Dit is ’n ernstige saak.”

Hy was besig met sy slotbetoë tydens vonnisverrigtinge vir Oscar, wat verlede maand skuldig bevind is aan strafbare manslag.

Gerrie het gesê hy stem saam met Barry Roux, vir Oscar, dat die atleet ongeskik verklaar moet word om ’n vuurwapen te besit.

Hy het gesê sulke akkoord “gebeur nie dikwels nie”.

Gerrie het Barry se aanvoering verwerp dat die hof die beginsels van ubuntu en herstellende geregtigheid in ag moet neem en Oscar nie tronkstraf oplê nie.

“Dit is klein sake,” het Gerrie gesê met verwysing na die sake waarna Barry verwys het waar hierdie beginsels toegepas is.

“Dit is nie ’n klein saak nie; dit is nie eens ’n beginsel wat oorweeg kan word nie. Die samelewing se belang dring op tronkstraf aan.”

Barry het getuienis van maatskaplike werkers voorgehou dat Oscar drie jaar korrektiewe toesig en 16 uur gemeenskapsdiens per maand moet kry.

Die voorstel, soos deur die verdediging gemaak, dat Oscar se prosteses in die tronk weggeneem sou word, moet met minagting verwerp word, het Gerrie gesê.

“Dit is onwettig.”