“Jou weergawe is so onwaarskynlik dat niemand sal dink dis redelikerwys of moontlik waar nie,” het die aanklaer, Gerrie Nel, tydens die moordsaak in die hooggeregshof in Pretoria gesê.

Gerrie het gesê Oscar sal niemand kan oortuig dat sy weergawe waar is nie. Oscar word daarvan aangekla dat hy Reeva met voorbedagte rade vermoor het. Hy het haar op 14 Februarie verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet.

Oscar voer aan hy het gedink daar’s ’n inbreker in die huis. Hy het onskuldig gepleit en in sy pleitverklaring ontken dat hy kort voor die skietery met haar gestry het.

Gerrie het Donderdag gesê: “Kom ons som dit op: ’n Polisieman het twee waaiers geskuif, die duvet op die vloer gesit en die gordyne wyer oopgemaak as wat dit moes gewees het?”

Oscar het geantwoord: “Dis korrek.”

Gerrie het vir Oscar foto’s gewys wat die polisie geneem het nadat Reeva geskiet is, en gevra Oscar moet die items uitken wat hy meen geskuif is. Oscar het gesê die duvet was nie op die vloer nie, die gordyne was nie so wyd oop soos op die foto nie en dat die waaiers geskuif is.

Gerrie het gevra hoekom ’n polisieman die items sou skuif en ook gevra of daar teen hom saamgesweer is. “Ek is nie seker nie, U Edele,” het Oscar geantwoord.

Gerrie het gesê as die waaiers op die plek was waar Oscar sê hulle veronderstel was om te wees, sou dit nie moontlik gewees het dat dit ingeprop is nie. Die atleet het nie hiermee saamgestem nie.

Die hof het verdaag tot Vrydag.

- Sapa