“Dit het duidelik geword die beskuldigde is nie in staat om enigsins verantwoordelikheid te aanvaar nie,” het die aanklaer Gerrie Nel in sy slotbetoë gesê. Oscar “het geweier om enigsins verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar” en is altyd die slagoffer.

'Hy plaas altyd die blaam vir sy dade iewers anders.'

“Hy plaas altyd die blaam vir sy dade iewers anders.”

Oscar staan tereg weens moord; hy word daarvan aangekla nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar geskiet het.

Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet.

Oscar pleit onskuldig en beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom sou aanval. Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

Gerrie het sy slotbetoë begin deur te sê die staat het die verdediging se betoë gekry eers nadat hulle hul eie ingedien het.

Die staat het op 30 Julie hul slotbetoë ingedien, en die verdediging Maandag.

Gerrie het gesê hy wil die toon aangee en het een van sy gunstelingstellings aangehaal.

“Ek het gedink ’n kriminele verhoor is ’n baie direkte manier om by die waarheid uit te kom,” het hy gesê.

Hy het gesê die verdediging het aangedui hulle het twee benaderings tot die saak, maar volgens Gerrie is dit nie die norm nie.

“Dit is nie twee gewone verdedigings nie,” het hy gesê. “Die verdediging wat Oscar voorgehou het, het nie kriminele kapasiteit nie, en as daar is, was dit in selfverdediging,” het hy gesê. “Dit is twee standpunte wat nooit met mekaar versoen kan word nie,” het Gerrie gesê en die hof gevra om een te kies.

'Swak vertoning...'

Hy het gesê Oscar het tydens kruisondervraging ’n “swak vertoning” gelewer en sy weergawe moet afgewys word.

“As ’n mens sy weergawe van die aand se gebeure afwys, was daar geen waargenome inbraak nie,” het hy gesê.

Hy het gesê Reeva het haar die oggend drieuur met haar selfoon in die toiletvertrek toegesluit en sy was ten volle geklee.

Dit was nie asof sy pas die badkamer gebruik het en besig was om haar aan te trek nie, het hy gesê.

Oscar het vier skote afgevuur met ’n “kragtige pistool” met Black Talon-ammunisie, waarvan drie Reeva getref het, het Gerrie gesê.

“Daar was net twee mense in die huis; een is dood en een het oorleef.”

Gerrie het gesê hy het geweet daar sou ’n argument wees dat daar geen onus op Oscar was nie, maar die staat sou dit hanteer.

- Sapa