Die hof het vandag drie keer verdaag omdat Oscar begin huil het.

Vanmiddag was hy weer na aan trane, sodanig dat Gerrie by hom wou weet hoekom hy so ontsteld is.

“Ek kan nie verstaan hoe jy emosioneel kan raak wanneer jy praat oor hoe jy ’n deur oopmaak met ’n vuurwapen in jou hand nie?”

Gerrie het aangevoer Oscar huil omdat hy gefrustreer is weens die antwoorde wat hy moet gee en omdat sy weergawe nie sin maak nie.

Die hof het net voor teetyd verdaag toe Oscar begin huil het. Oscar het hard gesnik toe hy die woorde herhaal wat hy op Valentynsoggend vir die beweerde inbrekers in sy huis geskree het: “F***** uit my huis uit!”

Ná teetyd het die hof weer vir ’n rukkie verdaag toe Oscar begin huil het nadat Gerrie vir hom gesê het hy het geweet dis Reeva agter die deur en het haar opsetlik geskiet.

Net voor middagete het Oscar weer emosioneel begin raak toe Gerrie hom vra hoekom sy vuurwapen spesifiek op die deur gerig was en of dit net “geluk” was.

Oscar het gesê-vra: “Hoe kan dit geluk wees? Sy het haar lewe verloor.”

Gerrie het gevra dat die saak uitgestel word tot môreoggend, want hy wil met ’n reeks vrae oor die toilet begin.

- Hilda Fourie