Prins Harry van Brittanje is glo gereed om saam met sy meisie, Cressida Bonas, voor die kansel te staan.

Die aantreklike koninklike is smoorverlief op die 25-jarige sosiale vlinder, en daar loop gerugte dat hy wil trou met sy meisie van langer as ’n jaar.

’n Bron het aan die Amerikaanse uitgawe van OK! gesê: “Hy moet eers die koninklike protokol volg, soos sy ouma se toestemming vra.

“Paleisbronne sê haar majesteit is nog nie-amptelik versoek nie. Maar dat ons daarvan hoor, beteken waarskynlik hy het reeds die jawoord gevra en wag tot al die vereistes nagekom is voor dit formeel bekendgemaak word.”

Koningin Elizabeth se goedkeuring gaan glo net ’n formaliteit wees, want die 87-jarige monarg meen glo Cressida, ’n lid van die aristokratiese Curzon-familie, is ’n goeie pasmaat vir Harry.

Die bron het bygevoeg: “Almal weet die koningin wil graag hê haar karnallie van ’n kleinseun moet tot bedaring kom nie, en sy dink Cressy is sy pasmaat. Sy hou daarvan dat sy uit ’n goeie familie kom. En sy het ’n vonkel in haar oog wat (die koningin) herinner aan haar suster, wyle prinses Margaret.”

Maar, as Harry dié stap doen, sal sy bruilof nie so weelderig wees soos toe sy ouboet, prins William, in die Westminster-abdy met hertogin Catherine getroud is nie.

Die bron het gesê: “Dit sal glad nie so groot wees nie. Die (tweede) aanspraakmaker op die troon s’n sou altyd ’n groot skouspel met prag en praal gewees het.”