Prokureurs is Maandag in ’n memo deur die Durbanse mosiehof, met sy basis by die hooggeregshof in Durban, aangeraai om pare wat ’n bestrede egskeidings verlang, in te lig dat hulle eerskomende Vrydag ’n halfuur vroeër by die hof moet aanmeld weens beurtkrag.

Die memo, wat deur die Prokureursorde van KZN omgestuur is, het gelui: “Gegewe die verwagte beurtkrag Vrydag tussen 10 vm. en 12 nm. sal die verrigtinge in die mosiehof in Durban om 9 vm. begin.” Dit begin gewoonlik halftien.

“Let asseblief daarop dat egskeidings eerste aangehoor sal word, aangesien hierdie getuienis opgeneem moet word,” het die memo gelui.

Volgens die amptenaar kom die howe tot stilstand by gebrek aan ’n alternatiewe kragbron, aangesien hulle geen oudio-opnames kan maak nie. ’n Hofamptenaar van Durban het erken dat die beurtkrag beteken dat hulle óf soggens vroeër moet begin óf smiddae later moet klaarmaak. ’n Prokureur, wat naamloos wil bly, het gesê dat onbestrede egskeidings slegs ’n uur behoort te duur, maar dat die onbeplande kragonderbrekings tot ’n vertraging van minstens twee uur lei en dat sake dan slegs in die middag aangehoor kan word.

'As beurtkrag toegepas word, is die kliënt se rekening hoër.'

“Die kliënt betaal moontlik per uur vir sy/haar regsdiens. As beurtkrag toegepas word, is die kliënt se rekening hoër. As jy gelukkig is, word jou saak teen 3 nm. aangehoor.

“In ander gevalle kan daar aan jou gesê word die hof is ‘oorvol’ en dat jou saak uitgestel is.”

Die departement van justisie is gevra of hulle enige prosedures, soos byvoorbeeld alternatiewe energie in die vorm van opwekkers, daargestel het om die verminderde hoftyd weens beurtkrag die hoof te bied. Hulle moet nog terugvoer gee.

Bron: News24