Hulle is Hollywood se warmste nuwe paartjie en nou klap die skindertonge behoorlik oor of die akteur Sean Penn en die aktrise Charlize Theron dalk binnekort voor die kansel gaan staan.

Die meisie van Benoni, wat ’n Oscar vir haar rol in Monster gewen het, was al baie uitgesproke oor die feit dat sy nie sommer sal trou nie. Maar dit gons behoorlik oor die twee nadat foto’s van Charlize saam met Sean en haar tweejarige seun, Jackson, op ’n strand in Malibu geneem is.

Die MailOnline het foto’s uitgereik van die twee wat skaars hul hande van mekaar kon hou terwyl Jackson alte heerlik in die branders baljaar het.

Die twee het duidelik die paparazzi opgemerk, maar hulle nie veel daaraan gesteur nie. Charlize (38) en Sean (53) is so te sê onafskeidbaar sedert hulle vroeër vanjaar die eerste keer saam gewaar is.

Sean was al met van Hollywood se bekendste vroue getroud; eers vier jaar met Madonna en daarna 14 jaar met die aktrise Robin Wright.

Die drietjies het reeds soos ’n dolgelukkige gesin op die strand gelyk terwyl Sean en Charlize met Jackson gespeel het en twee honde ook saam met hulle baljaar het.

Volgens ’n ingeligte praat Sean en Charlize oor saamwoon en ook trou . . .

In 2011 het Charlize nog gesê “ ’n huwelik is nie iets wat ooit vir haar belangrik” was nie. Duidelik lyk dit asof sy nou van plan begin verander.

Charlize se jongste fliek, A Million Ways to Die In The West, word op 30 Mei oorsee uitgereik. Sy speel saam met Seth McFarlane, Amanda Seyfried, Liam Neeson en Neil Patrick Harris in die fliek.