Kaapstad - Eskom het Vrydag gewaarsku daar is 'n groot kans op beurtkrag vandag. Dit kan enige tyd van so vroeg as 06:00 vanoggend tot 22:00 vanaand ingestel word. Die rede hiervoor is omdat 'n paar van sy eenhede Donderdagaand uitgeskop het.

Die kragverskaffer het verduidelik dat dit 'n tekort aan kragopwekkingsvermoë kan veroorsaak, wat die kanse op beurtkrag verhoog.

Met dié dat die noordelike provinsies gebuk gaan onder 'n erge hittegolf, het Eskom ook gewaarsku teen die oormatige gebruik van lugverkoelers en swembadpompe. Daarom het gebruikers gemaan om meer energiedoeltreffende maniere te vind om koel te bly.

Suid-Afrikaners het oor die afgelope 61 dae net vir sowat twee ure beurtkrag ondervind. Eskom het opnuut gesê beurtkrag sal net ingestel word as 'n laaste uitweg om te verseker dat die nodige herstelwerk aan die elektrisiteitsnetwerk gedoen kan word.

Eskom het ook wenke gegee oor hoe gebruikers op 'n energiedoeltreffende wyse koel kan bly. Hitte, ventilasie en lugverkoeling moet optimaal ingespan word, maan die kragverskaffer.

Dit kan gedoen word deur die volgende maklike stappe te volg:

  • Maak die gordyne en/of blindings toe in 'n vertrek wat direkte sonlig ontvang. Dit help om die vertrek koel te hou en beteken die lugverkoeler hoef eers later aangeskakel te word.
  • Maak seker al die vensters is toe terwyl die lugverkoeling aan is.
  • Moenie die lugverkoeling in leë vertrekke aanskakel nie.
  • Skakel die lugverkoelingstelsel dertig minute voor jy die kantoor verlaat af.
  • Stel die lugverkoeler se gemiddelde temperatuur in die somer op 23°C.
  • Maak seker gereelde herstelwerk en instandhouding word op elke lugverkoelingstelsel uitgevoer, insluitend die motors, pompe, waaiers en filters.
  • Laat jou lugverkoeler soggens koel lug van buite insuig en binne sirkuleer in plaas daarvan om later in die dag warm lug van buite in te suig.

Bron: Fin24

Met News24 se slim aanlyn-portaal kan jy kyk presies wanneer jou buurt beurtkrag sal ondervind. Besoek Grid Watch nou om te sien wanneer jy dalk in die duister gaan wees.