.

Leerders in Engeland word gemonitor as deel van die nasionale kindermoniteringsprogram, wat sedert 2005 bestaan, en gevolglik in hul eerste en laaste jaar op laerskool geweeg. As ’n kind buite die “normale” gewigsmarge val, sal sy ouers ’n brief ontvang. Die Koninklike Vereniging vir Openbare Gesondheid eis egter nou dat die briewe aangepas of gestaak word. “Net ’n vyfde van ouers vind die ‘vet briewe’ nuttig,” het Shirley Cramer van die vereniging gesê. “Ons glo die brief moet lei tot ’n gesprek met die ouers; dit moenie net iets wees wat hulle daarop attent maak nie.”

“Ek voel gefrustreerd en kwaad”

Max Hurry (5) is gesond, skraal en aktief. Hy weeg 19,95 kg en is 1,07 m lank. Ten spyte van sy gesonde leefstyl, het sy ouers, Sarah en Paul Hurry, reeds twee van hierdie sogenaamde “vet briewe” ontvang.

“Dit het gevoel of ek daarvan beskuldig word dat ek ’n slegte ouer is,” het Paul aan Sky News gesê. “Ek voel gefrustreerd en kwaad.”

Volgens dr. Monah Mansoori “moet jy na die pasiënt voor jou kyk om uit te pluis of hulle werklik vetsugtig is”. Sy waarsku ook dat hierdie briewe aan ouers baie versigtig benader moet word.

“As daar enigsins verwys word na ‘vet’ en ‘vetsug’, is daar die kans dat dit die kind sielkundige skade kan berokken – nou of selfs later.”

BRONNE: SkyNews, BBC