Bobby van Jaarsveld het besluit om sy lyf haarkapper te hou, maar is nou spyt oor die besluit. Die gewilde Afrikaanse sanger het Donderdagaand ’n foto van sy nuwe haarstyl op Instagram gedeel en geskryf: “Vandag was en is ek baie spyt. Maar baie dankie, @GaryRomHair, dat julle die beste probeer het om my hare te red nadat ek dit self try sny het. #weetniehoekomdoenekditnie.”

Die haarstiliste van Gary Rom Hair kon darem inspring om Bobby van ’n totale ramp te red. “Spyt kom altyd te laat!!!” het Bobby op Facebook oor sy poging geskryf.

“Ag gelukkig groei dit terug,” het ene Christina Smit geskryf. “Dit gebeur met die beste van ons,” het Natalie Wolmarans in reaksie getroos.

“Ons almal het al voor die spieël sit en wonder: hoe sal ek met korter hare lyk? Of: ek wonder wat sal gebeur as ek hierdie kant ’n bietjie korter skeer?” sê Wilmari Willmot, ’n haarstilis van Gary Rom Hair in Woodlands, Pretoria.

Daar is verskeie redes waarom jy nie self jou hare moet sny nie, sê sy.

“Om mee te begin -- die resultaat gaan heel waarskynlik nie dieselfde wees as die prentjie in die tydskrif of die prentjie in jou kop nie.”

’n Professionele haarstilis is opgelei om vir jou voor te stel wat by jou leefstyl, gesigsvorm, lengte, liggaamsbou en haartekstuur gaan pas, verduidelik sy. “Daarvolgens kan jy ’n ideale moderne haarstyl bepaal. Onthou, jou hare is die kroon van jou voorkoms.”

Wilmari sê dit is daarom beter om eerder moeite te doen en by jou haarstilis uit te kom.