Die media-aandag het sy trauma vererger, het Lebohang Mabuya (33) Woensdag aan News24 gesê.

“My seun is sewe jaar oud en oral waar hy gaan, sê kinders vir hom hulle het sy ma op die video sien skree. Ek wens die media-aandag wil weggaan om my seun se onthalwe.”

Die video-opname van die voorval het soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei. Daarop skree Lebohang en ’n man Sondag vloekwoorde op mekaar in die Texamo Spur in die inkopiesentrum The Glen in Johannesburg.

Lebohang, ’n verpleegster, sê sy is uitgeput van die media-aandag.

“Weet jy, dis oorweldigend, en met my werk het ek nie altyd my foon by my nie en ek is moeg daarvan om so baie misgeloopte oproepe te ontvang,” sê sy.

Op die kringtelevisiebeeldmateriaal wat News24 gesien het, stap ’n meisie na Lebohang se tafel en sê iets terwyl Lebohang haar kop skud.

Terwyl die meisie met Lebohang praat, stap ’n man ook na die tafel toe en wys aggressief met die vinger na haar.

Die man gryp die meisie se arm en trek haar na hom toe. Lebohang trek die kind terug na haar toe, staan op en begin na die man vinger wys.

Die man stap weg, maar keer terug nadat Lebohang op hom skree en lig dan die tafel op. Sy maat probeer hom kalmeer en hulle verlaat die restaurant.

Spur sê hulle sal die kringtelevisiebeeldmateriaal uitreik nadat hulle met hul prokureurs beraadslaag het.

Geen klag

Lebohang sê sy is nie van plan om die man aan te kla nie.

“Ek het die trauma gesien wat my seun ervaar het en besluit om geen klag aanhangig te maak nie. Wat sal dit tog bereik?” vra sy.

Lebohang sê sy is nie trots op wat gebeur het nie.

“Ek moes hom (my seun) sitmaak en verduidelik die taal wat gebruik is, word nie toegelaat nie.

“Ek het vir hom gesê ons is almal Afrikane ongeag ons velkleur en ’n bakleiery los niks op nie. Ek wil nie hê hy moet voortaan dink hy kan kry wat hy wil hê deur te baklei nie.”

Lebohang sê sy stel nie belang om die man weer te sien nie.

“Daar’s eerlikwaar geen kwade gevoelens nie, want ek haat hom nie of enigiets nie, maar om vredeshalwe dink ek dit is die beste as ons mekaar nie ontmoet nie. As ek of hy om verskoning vra, sal dit tog niksbeduidend wees,” sê sy.

Bron: News24