In ’n verklaring wat die Spur Corporation se uitvoerende hoof, Pierre van Tonder, uitgereik het, sê die maatskappy die toer is ’n poging om “’n beter begrip van hul klante en franchise-houers te kry. 

“Oor die laaste paar maande het ons besef ons het nie na ons klante geluister nie,” sê Van Tonder.

“Die onderonsie tussen twee Spur-klante in Maart in Johannesburg en die reaksie daarop het ’n sterk boodskap tuisgebring, naamlik dat ons dringend moet aandag gee aan die behoeftes en frustrasies van ons klante.”

Hy sê die korporasie aanvaar en erken die gevoelens van beide die publiek en sy franchise-houers oor hoe hulle die situasie “in die geheel” hanteer het. 

“Ons vra hiermee onvoorwaardelik verskoning aan enige mens of gemeenskap wat aanstoot geneem het oor ons optrede en sal voortaan seker maak ’n regverdige verhoor geskied voor oordele gevel word.” 

Van Tonder voeg by die maatskappy het die reaksie op die voorval in die sosiale media ontleed en die stappe wat dit ná die voorval gedoen het “sodat dit bespreek en reggestel kan word”. 

Vir daardie doel het Spur ’n paneel kenners aangestel om die onlangse negatiewe reaksie in onder meer die sosiale media te ontleed en aanbevelings te doen oor waar verbeterings gemaak kan word, sê hy.

Weens die oorweldigende openbare reaksie en klante-insette het Spur besluit om die paneel se werk voorlopig uit te stel en daarop te fokus om te luister na hul klante, die franchise-houers en die publiek. 

“Wanneer al die inligting ingesamel is, sal ’n paneel groter grondvlak-insette kan evalueer en betekenisvoller aanbevelings aan Spur maak.” 

Vurige onderonsie

’n Taakspan is ook aangestel om die speelruimtes veiliger te maak en ekstra personeellede sal tydens besige tye aangestel word, sê hy. Franchise-houers sal ook opleiding in konflikbestuur ontvang. 

’n Video van die voorval is in die sosiale media versprei. Dit wys hoe Lebohang Mabuya, die peetma van een kind, en Nico Viljoen, die pa van ’n ander kind, in ’n vurige onderonsie betrokke is. 

Daar word gehoor Viljoen vir Mabuya sê hy het deur die speelruimte se venster gesien hoe haar dogter syne op die kop slaan. 

Mabuya antwoord die kind is klein en sê hy moet ophou om haar te boelie. Hy sê haar dan aan om iets te doen oor wat gebeur het, waarop sy antwoord: “F**** net.”

Viljoen dreig om haar te klap. 

Terwyl die grootmense mekaar vloekwoorde toesnou, sit die kinders om die tafel. Viljoen stap weg, maar lag toe hy omdraai nadat Mabuya hom ’n boelie en ’n lafaard genoem en op hom gevloek het. 

Omstanders en personeel probeer tussen beide tree. Die kinders word na ander sitplekke geskuif toe Viljoen die tafel probeer omkeer. 

Ander mense probeer hom wegstoot, en Mabuya noem hom dan ’n boelie en rassis. Daar word gehoor hoe ’n ander mens skree: “F** hulle!” Waarop Mabuya uitroep: “F** jou ook. Dit is ’n demokratiese land, as jy nie agtergekom het nie.” Viljoen verlaat die eetplek.

Maandag het Van Tonder ’n vorige standpunt herhaal en gesê die korporasie se besluit is nie deur enige politieke organisasie beïnvloed nie. 

“Spur wil nie by politieke debatte betrokke raak nie en sal fokus op wat ons die afgelope 50 jaar ’n ikoniese Suid-Afrikaanse handelsmerk gemaak het: ’n plek waar gesinne uit alle gemeenskappe kan bymekaarkom en ’n veilige en prettige restaurant-omgewing kan geniet.” 

Hy het bygevoeg die lesse wat Spur uit die voorval geleer het, sal vorentoe die korporasie se fokus verbreed. “Ons neem kennis dat verskeie franchise-houers nou onder druk is sonder dat hulle enigiets verkeerds gedoen het. 

“Spur sal elkeen van hulle steun om die persoonlike verhoudings te hervestig wat hulle in hul onderskeie gemeenskappe koester. Ons vra ons franchise-houers ook opreg verskoning.”