Die boikot raak ’n minderheid Spur-takke in gebiede met “sekere demografiese eienskappe”, het Pierre van Tonder Woensdag in ’n verklaring gesê.

“Spur is wel bekommerd oor die uitwerking wat die boikot op individuele franchisehouers het, wat die hardste hierdeur getref word, asook die uitwerking wat dit op hul werknemers het.”

Van Tonder het gesê hoewel ’n paar takke deur die boikot geraak is, is die meeste van die restaurante heel veerkragtig.

“Ons het volle vertroue dat die maatskappy die huidige storm met dieselfde veerkragtigheid sal trotseer wat dit oor die afgelope 50 jaar getoon het, en ons sal nog lank voortgaan om waarde aan ons beleggers en klante te bied,” het Van Tonder gesê.

Spur-restaurante het ’n man, glo van Orkney in Noordwes, uit hul eetplekke landwyd verban nadat ’n onderonsie tussen twee kinders in die speelterrein van die restaurant in Oakdene tot ’n rusie tussen die ouers gelei het en hulle amper handgemeen geraak het.

’n Video van die voorval is in sosiale media gedeel. Daarin is Lebohang Mabuya, peetma van die een kind, en die pa van die ander kind in ’n hewige rusie by die Texamo Spur in die Glen-inkopiesentrum oos van Johannesburg gewikkel.

Daar kan gehoor word hoe die man vir die vrou sê haar dogter het sy dogter op die kop geslaan en hy het dit deur die venster van die speelarea gesien.

Mabuya het hierop geantwoord die kind is klein en het toe vir die man gesê sy sal nie toelaat dat hy haar boelie nie. Hy het haar toe gesê sy moet iets doen oor wat gebeur het, waarop sy antwoord: “F**** net.”

Die man dreig dan: “Ek sal jou 'n p***klap gee,” maar weerhou hom daarvan om haar te klap.

Die kinders sit intussen om die tafel terwyl die volwassenes mekaar slegsê. Die man verlaat dan die tafel en lag toe hy omdraai nadat Mabuya hom ’n boelie en lafaard genoem en op hom gevloek het.

Omstanders en personeel het tussenbeide probeer tree, en terwyl die kinders na ander sitplekke geskuif is, het die man die tafel probeer omgooi.

Omstanders vra dan die man om weg te stap en Mabuya noem hom ’n boelie en rassis. Nog iemand skree: “F** hulle!” waarop Mabuya antwoord: “F** jou ook. Dit is ’n demokratiese land, ingeval jy nie agtergekom het nie,” terwyl die man uit die restaurant stap.

’n Facebookblad, Boikot SPUR Steak Ranches, is toe gestig waarop Spur as bevooroordeeld beskryf is.

“Wit mense moet ophou om hul geld daar uit te gee tot die swart vrou en haar vuil mond ook verban is. Hulle is albei verkeerd,” lees die blad.

Nog ’n groep, Boycott Spur Steak Ranches, sê die boikot kom “nadat ’n man onlangs uit Spur verban is terwyl die voorval wat tot sy woede gelei het, ignoreer is”.

The Herald het Dinsdag berig verskeie franchise-eienaars in Port Elizabeth het bevestig die boikot het hul besighede geraak, maar wou nie verder kommentaar lewer nie, en het die vrae na die groep se hoofkantoor verwys.

Mark Farrelly, bedryfshoof van die Spur-groep, het glo aan die publikasie gesê die boikot raak ’n minderheid Spur-takke, hoofsaaklik dié in “vestings van die ou Konserwatiewe Party”.

Dirk Hermann, uitvoerende hoof van die vakbond Solidariteit, het Dinsdag ’n brief aan Farrelly gerig en gesê die rede hoekom wit Suid-Afrikaners besluit het om Spur-restaurante te boikot, is dat die franchise hulle as konserwatiewe regses van die ou Konserwatiewe Party gekategoriseer het, en gesê het hulle woon in plekke soos Moot in Pretoria.

Die ope brief aan Farrelly is getiteld My Lus Vir Spur Is Net Weg. Hermann sê wit mense is moeg vir politieke korrektheid ten koste van hulle en om geboelie te word elke keer as hulle ’n opinie lug.

“Dit gaan oor ’n gemeenskap wat vervreem voel in die land en nou voel hulle ook vreemd in hul gunstelingrestaurant. Afrikaners is Spur-mense, gesinsmense. Hulle het Spur beskou as ’n restaurant waar hulle tuis voel. Mark, jy het gekap na hulle. Dit was ’n fout.”

Hy het voorts gesê Farrelly het drooggemaak en moet om verskoning vra vir wat hy gesê het.

“Jy het ’n gemeenskap verwerp wat jare lank jou lojale klante was. ’n Verskoning is in orde. Mense het hul lus verloor om by jou restaurante te gaan eet.”

Van Tonder het volstaan by Farrelly se opmerkings en die groep se verklarings en gesê Hermann is geregtig op sy opinie. “Ons staan by die manier hoe ons hierdie situasie van begin tot einde bestuur het.”

Bron: News24