Hier is Troye se video wat hy op YouTube geplaas het

“Ek was in my lewe nog nooit so senuagtig soos nou nie,” sê Troye (18) in die video. “Dit voel vreemd om dit so op die internet aan te kondig, maar . . . dit is nie iets waaroor ek skaam is nie. Niemand hoef daaroor skaam te wees nie, so waarom kan ek dit nie met julle almal deel nie?”

Troye se YouTube-kanaal, waar die video op 7 Augustus verskyn het, het meer as ’n halfmiljoen intekenare. Aanhangers van die akteur het hul ondersteuning op sy Facebook-blad gewys. Honderde mense het Troye gelukgewens en gesê hulle is trots op sy besluit. Meer as 760 000 mense het reeds die video gekyk.

In die video sê Troye ook hy het reeds op 7 Augustus 2010 vir sy familie vertel hy is gay; daarom het hy dieselfde datum in 2013 gekies om dit aan die wêreld te verkondig. Hy sê sy familie en vriende het hom van die begin af ondersteun en die feit dat hy gay is het hulle nader aan mekaar gebring.

Troye is in Suid-Afrika gebore, maar het op tweejarige ouderdom saam met sy gesin na Australië geëmigreer.

- Shane Barnard