Die vrou wat saam met haar man op 42 aanklagte van onder meer verkragting, kindermishandeling, seksuele mishandeling, dwelmhandel en dwelmbesit teregstaan, het Woensdagoggend in die hof getuig hoe bang sy vir haar man was.

springsmonster

Haar man, wat as die 'Springs-monster' bekend staan, het haar en haar kinders glo mishandel. Hul name word nie bekendgemaak nie om die vyf kinders – waarvan sommige minderjarig is – te beskerm.

Lees ook: ‘Springs-monster’ glo trots op sy vrou, sy ontken dat hy haar ooit geslaan het

Die vrou het aan die hof gesê sy en haar kinders mag nooit alleen die huis verlaat het nie. Sy het glo meer as een keer van die huis probeer vlug en haar kinders saamgeneem, maar haar man het hulle altyd weer kom haal.

Regter Eben Jordaan het haar gevra of sy haar familie vertel het wat by die huis aan die gebeur is, waarna sy saggies "ja" geantwoord het.

"Hy het my susters en familie belowe dat hy my en die kinders nie weer sal seermaak nie."

Louiza van der Walt, wat vir die verdediging optree, het gevra of ’n saak ooit by die polisie aangemeld is.

Lees ook: Hof hoor van smerige kombuis, pornografie en rotte in Springs se ‘Huis van Gruwels’

"Ja, sy neef Jan het," het die vrou getuig.

"Hy het my een maal ’n blou-oog gegee en gesê ek moet die polisie vertel ons het "kinky" seks gehad. Toe die polisie daar aankom het ek ’n sonbril aangehad en het hulle my gevra om dit af te haal."

Haar man het toe die polisie vertel hulle het "kinky" seks gehad, beweer sy. "Hy het agter die polisieman gestaan, sy vuis vir my gebal en gesê hy sal my slaan as ek enigiets vir die polisie sê."

Sy was gedurende die eerste 30 minute van haar getuienis kalm, maar is gereeld gevra om harder te praat.

Die polisie het in Mei van 2014 op die Oos-Randse huis toegeslaan nadat die paartjie se seun na die bure om hulp gevlug het.

Een van die kinders het glo die gesin se motorsleutel verloor en sy pa het gesê as hy die sleutel nie vind nie, sal hy die kind slaan. Die vrou en kinders het na die Toyota Fortuner se sleutel gesoek. Toe hulle dit nie kon kry nie, het die seun na die bure se huis gegaan.

Hy het hy geweier om terug te keer.

"Toe die man by die huis aankom, het ek hom gesê die seun is by die bure. Hy het soontoe gegaan en hom daar uitgesleep aan sy arm. Hy het hom ook teen die kop geslaan," het sy getuig.

Die man het glo ook vir die kind gesê hy gaan hom "dood donner" daardie aand.

"Hy het bo-op die seun gesit, sy arms met sy bene vasgepen en hom herhaaldelik met die vuis deur die gesig geslaan."

Die man is op 23 Mei 2014 in hegtenis geneem.

Toe die polisie en maatskaplike werkers die volgende dag by die huis aankom, was die man en seuntjie glo weg.

"Hulle het glo klagtes van mishandeling van die bure gekry," het die vrou getuig. "Hulle het gevra waar die pa en sy seun is en ek het gesê ek weet nie."