Die pa van Springs aan die Oos-Rand wat daarvan aangekla word dat hy sy vrou en vyf kinders aangehou het, sal weer aansoek doen om borgtog, het die koerant The Star Donderdag berig.

Die man se prokureurs het gesê daar is nuwe feite wat die hof in ag moet neem nadat sy kliënt verlede maand borgtog geweier is.

Die 36-jarige man, wie se naam nie bekendgemaak mag word nie om sy kinders se identiteit te beskerm, word in die gesig gestaar deur aanklagte van poging tot moord, kindermishandeling en dwarsboming van die gereg.

Hy is in Mei in hegtenis geneem nadat sy 11-jarige seun uit die gesinshuis gevlug het en na die bure se huis gehardloop en om hulp gesmeek het. Die bure het die polisie ontbied.

Kort nadat hy borgtog geweier is, het die man sy polse in die aanhoudingselle gesny. Sy vrou is ’n paar weke ná sy inhegtenisneming op dieselfde aanklagte in hegtenis geneem. Haar identiteit mag ook nie onthul word nie.

Sy is borgtog toegestaan nadat die hof beslis het sy is nie ’n vlugrisiko en hou nie ’n bedreiging in vir die getuies in die saak nie.

- Sapa