Tydens die verrigtinge Donderdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof is die vrou van die sogenaamde Springs-gruwelhuis se begrip van sekere woorde onder die loep gebring.

Maar dit was haar getuienis rondom ’n moontlike verhouding tussen haar man en haar “sussie” wat die ore laat spits het.

Die vrou het dié bewering gemaak omdat ’n kaalfoto van haar suster op haar man se foon was.

“Hy het baie vir my sussie gaan kuier,” het sy getuig. Die vrou het Maandag bevestig haar suster het wel ’n kaalfoto van haarself aan die man gestuur in ’n poging om haar “terug te kry”.

Haar man het glo verwag dat sy kort uitrustings, lang stewels en swaar grimering vir hom moes dra. Sy het eers haar klerestyl aangepas nadat hy tronk toe is.

Adv. Louisa van der Walt, haar regsverteenwoordiger, wou vandag van haar weet of sy weet wat “regsplig” beteken.

Sy het gesê sy weet nie. Nadat regter Eben Jordaan haar gevra het wat sy dink dit kan beteken, het sy aangedui dat dit is wanneer “jy iets reg moet doen en dit nie verkeerd doen nie”.

Sy het ook bevestigend geantwoord toe sy gevra is of ’n ma na haar kinders moet kyk.

Die woord dwang het sy soos volg verduidelik: “As iemand sê ek moet saam met hom gaan”. En die woord misbruik: “As iemand vir jou sê jy moet goed doen, en jy wil dit nie doen nie.”

Die woord vereenselwig het egter nie vir haar iets beteken nie.

Die saak tot dusver

Die polisie is in Mei 2014 na die huis in Springs ontbied toe een van hul kinders by bure hulp gaan soek. Die man is op 23 Mei 2014 in hegtenis geneem.

Die vrou is op 24 Junie 2014 op ’n klag van regsverydeling in hegtenis geneem. Sy was 35 jaar oud. Dit het gekom toe sy onverwags weier om teen haar man, na wie as die “Springs-monster” verwys word, te getuig.

Die man het 22 aanklagte teen hom en sy vervreemde vrou het 20. Die twee is intussen verlede jaar formeel geskei.

Die klagtes sluit in verkragting, kindermishandeling, poging tot moord en dwelmbesit en -handel.

Maandag het die vrou weer bevestig wat sy in haar twee verklarings gesê het - dat haar man haar na bewering aangerand het wanneer sy hom seks geweier het.

“Hy’t my in die huis rondgesleep en begin om my en die kinders te slaan,” het sy gesê.

Daarmee saam het sy ook vroeër beweer haar man het die oudste twee van die vyf kinders elke dag aangerand. Sy het ook deurgeloop wanneer sy hom probeer keer het. Sy het vertel hoe hulle gedreig is met ’n blaasvlam en ’n sambok en met ’n windbuks geskiet is.

Bykomende bron: netwerk24.com