Die paartjie mag nie identifiseer word nie omdat van hul kinders nog minderjarig is. Hulle verskyn op 42 klagte wat verkragting, kinder- en seksuele misbruik, poging tot moord, dwelmhandel en -besit insluit.

Die vrou het getuig dat sy onder moeilike omstandighede grootgeword het. Haar ma sou glo haar kêrel bo haar dogter verkies.

Sy was 11 jaar oud toe sy by haar suster ingetrek het. Daar het sy haarself geleer om hare te sny en naaldwerk te doen.

Die vrou het haar man ontmoet toe sy 17 jaar oud was. Hy het in daardie stadium reeds nie meer skoolgegaan nie.

Toe haar man se prokureur, Aneke van Wyk, haar vra of hy ook onder moeilike omstandighede grootgeword het. Sy het dit ontken.

Die vrou het aanvanklik getuig dat hul huishoudelike probleme en mishandeling in 2008 begin het, na die geboorte van haar seun.

Huis van Gruwels: Leuens, doodsdreigemente, buite-egtelike verhoudings en trane . . .

“Hy het net nie meer dieselfde opgetree nie. Hy’t my in die huis rondgesleep en begin om my en die kinders te slaan,” het sy gesê.

Na ’n tyd in die getuiebank het sy haarself egter korrigeer en aangedui dat die mishandeling lank voor 2008 begin het.

Sy het vandag getuig haar dogter het leuens vertel – onder meer dat sy tydens ’n vakansie in Durban, tegelykertyd seks met haar man se broer, Piet, en sy neef, Bennie, sou gehad het.

Haar man het weer eens tydens hierdie deel van haar getuienis emosioneel voorgekom en gereeld kop-onderstebo trane met ’n sakdoek weggevee.

Die vrou sê sy het drie jaar nadat hulle getroud is, uit die huis getrek vanweë die mishandeling wat sy moes deurloop. Sy het by sy broer, Piet, gaan bly.

Aneke het dit aan die vrou gestel dat sy verskeie ander verhoudings sou gehad het. Sy het haar gevra oor ’n verhouding met ’n man genaamd Felix, asook nog ’n ander man wat by Spar sou werk. Sy is ook uitgevra oor ’n verhouding met ene Eddie.

Die vrou het al die beweerde verhoudings ontken.

Lees ook: Verdere besonderhede van kindermisbruik in ‘huis van gruwels’ kom aan die lig

"Is dit ook waar dat jou suster ’n kaalfoto van haarself aan die man gestuur het in ’n poging om jou ‘terug te kry’?” het Aneke haar gevra.

Die vrou het die bestaan van so ’n foto bevestig.

Aneke het haar ook gevra of sy ’n fout gemaak het toe sy vroeër aan die hof gesê het daar’s nooit kos in die huis nie, want toe die yskas gebreek het moes hulle die vleis weggooi.

Kyk: Foto’s van die sogenaamde Huis van Gruwels wat in Junie 2016 in die hof gewys is

“Ja,” was haar antwoord.

Nog ’n kwessie wat geopper is, is hoe dit vir die vrou moontlik was om haar leerlinglisensie te slaag hoewel sy na bewering nie kan lees of skryf nie.

Volgens die vrou was die antwoorde reeds op ’n stukkie papier vir haar neergeskryf en dat haar man iemand by die verkeersdepartement omgekoop het.

"Wil jy vir my vertel die hele verkeersdepartement was bewus hiervan? So, jy was oneerlik en het eintlik gekul?” het Aneke haar gevra.

Die vrou het dit bevestig.

Jennifer Cronjé, die staatsaanklaer, se argument was dat die vrou nie enige van haar verpligtinge teenoor haar kinders nagekom het nie; sy stem saam.

Jennifer het dit ook aan haar gestel dat sy daarvan bewus was dat die gebruik en besit van dwelms onwettig is, maar dat sy voortgegaan het om dwelms te gebruik. “Korrek,” het die vrou geantwoord.

Haar kruisverhoor sal Dinsdag voortgaan.

Bron: news24.com