Gereelde briefwisseling tussen die sogenaamde Springs-monster en sy vrou is Maandag en Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria voorgelees.

Die paartjie word aangekla weens onder meer verkragting, kinderverwaarlosing, dwelmhandel en poging tot moord.

Altesaam 42 klagte is teen hulle aanhangig gemaak sedert hulle in Mei 2014 in hegtenis geneem is.

Kyk: Foto's van die sogenaamde Huis van Gruwels wat in Junie in die hof gewys is

In van die briewe wat Maandag voorgelees is, het sy geskryf dat sy nooit haar man sal verlaat nie.

“Ek is so lief vir jou, my sexy; ek sal jou nooit los (nie), my sexy; my hart klop net vir jou, my sexy. PS: I love you (I love you so much, I will never leave you, my sexy; my heart just beats for you),” het die ondersoekbeampte, Rudi Jansen, uit die pienk briewe voorgelees.

Lees ook: Terugblik oor die sogenaamde Huis van Gruwels

Dinsdag het die hof gehoor dat die man op sy beurt gereeld aan sy vrou sou terugskryf en haar vertel hoe trots hy op haar is – en dat sy hom nie moet verlaat nie.

Tydens ondervraging destyds sou die vrou stilbly en liewer haar man die vrae laat beantwoord, het ao. Jansen in die hof gesê.

Mariena Genis, 'n psigiater, getuig oor haar onderhoude met die kinders en hul ma. Sy dui aan dat die kinders wel met haar oor gebeure gepraat het wat nie in die hof na vore gekom het nie. Sy bestempel dit as "normaal".

Sy word ook gevra waarom die oudste dogter (16), wat na bewering deur haar ma gedwing sou word om dwelms te verkoop, nie onmiddellik haar beserings aangemeld het nie. Die beserings is na bewering tydens seksuele aanranding opgedoen.

Luidens inligting in die psigiater se verslag ontken die dogter enige seksuele interaksie met haar pa. Sy erken wel hulle was nader aan mekaar as sy en haar ma.

Volgens haar ma was sy nie seksueel aktief nie. Sy het ook nie enige kêrels gehad nie omdat sy deurentyd by haar ouers was.
Die ma ontken glo ook dat haar man ooit sy hand teen haar gelig het. Verder verkwalik sy die seun vir die posisie waarin hulle hulself nou bevind.

Die saak word Donderdag voortgesit weens verwagte protesoptogte op Woensdag 2 November in Pretoria se middestad.