Die Springbokke het ’n noue ontkoming teen Argentinië oorleef toe hulle twee weke gelede (met ’n telling van 33-31) net-net teen die Suid-Amerikaners in Salta kon wen.

Die skrums was veral ’n probleem en die afrigter, Heyneke Meyer, het vier veranderinge onder die voorspelers aangebring; Marcell Coetzee, Victor Matfield, Adriaan Strauss en Tendai Mtawarira is by die beginspan ingesluit.

Heyneke het ook  Jan Serfontein en die ervare Morné Steyn gekies. Dié veranderinge beteken Bismarck du Plessis, Lood de Jager en Damian de Allende skuif na die plaasvervangersbank. Trevor Nyakane, Marcel van der Merwe, Pat Lambie, Francois Hougaard en Warren Whiteley is die ander plaasvervangers.

“Ons het van die begin af beplan om ons spanlede gedurende die Rugbykampioenskap rond te skuif,” het Heyneke in die aanloop tot Saterdag se wedstryd in Perth gesê. Die Wallabies is in hul vorige wedstryd teen die All Blacks verneder met ’n telling van 20-51.

“Al nuwe speler in die span is Warren. Ek is baie bly vir hom en opgewonde om te sien wat hy kan doen. Hy kan al drie posisies in die lostrio dek en later in die wedstryd ’n verskil maak.

“Dit is ook goed om Pat weer in die span te sien. Hy maak sy terugkeer ná ’n lang afwesigheid weens ’n besering en bied goeie ondersteuning op die bank vir die losskakel- en heelagter-posisies.”

Die wedstryd sal ’n groot geleentheid vir Bryan wees, want dié vleuel gaan die vierde Suid-Afrikaner word wat die groot mylpaal van 100 wedstryde in ’n Springboktrui haal. Die ander Springbokke wat dit al kon regkry, is Percy Montgomery, John Smit en Victor Matfield.

“Dit is ’n ongelooflike prestasie. Bryan is iemand op wie elke Suid-Afrikaner trots kan wees,” het Heyneke gesê. “Hy is waarlik ’n professionele speler en iemand wat altyd sy heel beste gee. Om hierdie indrukwekkende mylpaal te haal is ’n welverdiende beloning vir jare se toewyding en harde werk.”

  •  Die Suid-Afrikaanse span vir die wedstryd is:

Willie Le Roux, Cornal Hendricks, Jan Serfontein, Jean de Villiers (kaptein), Bryan Habana; Morne Steyn, Ruan Pienaar; Duane Vermeulen, Marcell Coetzee, Francois Louw, Victor Matfield, Eben Etzebeth, Jannie du Plessis, Adriaan Strauss, Tendai Mtawarira

Plaasvervangers: Bismarck du Plessis, Trevor Nyakane, Marcel van der Merwe, Lood de Jager, Warren Whiteley, Francois Hougaard, Pat Lambie, Damian de Allende

- Sapa