Die openingsplegtigheid in die Kaapse Waterfront is deur die huidige Springbok-span, 32 oud-Springbokkapteins en honderde aanhangers bygewoon.

“Ons het dit vir julle gebou,” het Jurie Roux, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se uitvoerende hoof, aan aanhangers gesê.

“Dit is nie eintlik ’n museum nie; dit is ’n ervaring van die magtigste rugby-handelsmerk in die hele wêreld. Aanhangers sal ’n voorsmakie kry van hoe dit voel om die Groen-en-Goud te dra.”

Die museum vat sowat anderhalf eeu van Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis saam en gebruik die jongste, interaktiewe tegnologie om rugby-aanhangers met verskeie speletjies vasgenael te hou. Besoekers gaan ook getrakteer word op verskeie uitstallings, soos Francois Pienaar se legendariese 1995-Wêreldbekerrugbytrui, John Smit se 2007-Wêreldbekerrugbytrui en ’n kortfilm van agt minute.

Saru het ook die geleentheid gebruik om vir die 32 oudkapteins lewenslange lidmaatskappe van die museum te gee. Des van Jaarsveld (84), wat op 30 April 1960 vir die eerste keer Springbokkaptein geword het, Dawie de Villiers (73), wat van 1962 tot 1970 vir die Springbokke gespeel het, Joost van der Westhuizen en John Smit was onder meer daar om hul lidmaatskap te ontvang.

“Die museum is ’n absolute inspirasie; dis emosioneel en dra beslis by tot die motivering om vir Australië Saterdag (28 September) ore aan te sit,” het die Springbok-haker Adriaan Strauss gesê.

“Dit gaan ’n tawwe wedstryd wees, maar ons berei baie goed voor vir hulle.” - Christiaan Boonzaier Besoek ook: Foto's van die opening van The Springbok Experience