Dit is vandag tyd vir die laaste en beslissende kragmeting in die Rugby-kampioenskap. Hier is ’n paar biltong-feite om jou pelle mee te beïndruk wanneer julle  17:00 regskuif om die Springbokke teen die All Blacks te ondersteun.

  • Die Springbokke het ’n wenpersentasie van 70% op Ellispark. In 44 toetse op dié stadion het hulle 31 gewen, 11 verloor en in 2 gelyk-op gespeel.
  • Van die 13 toetse tussen dié twee vyande op Ellispark, het die Springbokke 8 gewen.
  • Die laaste wedstryd tussen die All Blacks en die Springbokke op Ellispark is in 2004 gespeel. Suid-Afrika het met 14 punte gewen.
  • Die Springbokke het die laaste twee toetse teen die All Blacks op Ellispark met bonuspunte gewen… Hulle sal dit weer moet regkry om die Rugbykampioenskap te wen.
  • Twee van die Springbokspelers wat in dié 2004-kragmeting gespeel het, is ingesluit in Saterdag se span: die kaptein, Jean de Villiers, en die skrumskakel Fourie du Preez.
  • Net een van die All Blacks wat Saterdag gaan uitdraf het al op Ellispark teen die Springbokke gespeel, naamlik die Kiwi-haker, Keven Mealamu
  • Die volgende spelers in die twee spanne spog met 2 drieë in die 2013-Rugby-kampioenskap: Adriaan Strauss, Zane Kirchner, Jean de Villiers en Willie le Roux (SA) en Julian Savea en Aaron Smith (NZ). Die All Black-heelagter Ben Smith loop egter loshande voor – hy kon al 7 drieë druk in vanjaar se reeks!
  • Morné Steyn is die speler wat die meeste punte in die Rugby-kampioenskapsreeks kon aanteken: 81
  • Die All Black-kaptein, Richie McCaw, het al 105 toetse gespeel, maar nog nooit op Ellispark teen Suid-Afrika gespeel nie.
  • Net twee Springbok-spelers kon dit al regkry om ’n driekuns van drieë teen die All Blacks te druk: Ray Mordt (1981) en Marius Joubert (2004). Kyk hier na videos van hul driekunse. (Bryan Habana kon ook al ’n driekuns teen die All Blacks aanteken, maar het dit in die Barbarians-trui reggekry, in 2009.)