Hoe sal die Springbok-haker Bismarck du Plessis vaar as hy teen die Proteas-snelbouler Dale Steyn moet kolf? En sal Schalk Burger net so vreesloos wees met ’n krieket- as met ’n rugbybal?

Hulle sal ’n T20-wedstryd speel, wat deel sal wees van ’n drie dag lange krieketfees op Nuweland van 3 tot 5 Januarie.

Die Springbokke sal deur Jean de Villiers gelei word en die span sluit spelers soos Schalk Burger, Willem Alberts en Bismarck du Plessis in. “Ons is baie opgewonde oor die wedstryd en ons gaan dit ernstig opneem, aangesien daar ’n paar goeie krieketspelers in die Bok-span is,” sê die Proteas se T20-kaptein, Faf du Plessis.

Die Springbok-kaptein Jean de Villiers het gesê: “Ons kan nie wag vir die kans om Faf en sy span in hierdie wedstryd aan te vat nie. Ons het ’n lekker groep bymekaargekry van ’n paar mededingende ouens en ons is opgewonde daaroor om op Nuweland te speel; dit moet een van die skilderagtigste sportstadions ter wêreld wees.”

De Villiers sê sy span weet hulle is nie die gunstelinge nie, maar dat hulle uitsien na die uitdaging.

  • Kaartjies kos tussen R80 en R150. Toeskouers wat kaartjies wil koop vir al drie dae se krieket en vermaak, kan ’n afslag van 33 persent kry.
  • Kaartjies is van vandag af te koop by ticketpros.co.za. Die volledige program vir al drie dae is ook op die webblad.

Bron: Sarugby.co.za

Suzaan Hauman