Nóg ’n terugslag het Suid-Afrikaanse rugby getref. Wêreldrugby het pas aangekondig die Springbokspan het tot op sewende posisie op die wêreldranglys gedaal, hul laagste posisie ooit.

Die aankondiging volg op verskeie Europese spanne se goeie vertonings tydens die onlangse Ses Nasies-reeks. In skrille kontras daarmee beklee die Blitsbokke tans die eerste posisie op die wêreldranglys vir Sewesrugby. Die Springbokke was einde verlede jaar nog in die derde plek. Maar vir elke oorwinning kry ’n span punte wat sy posisie op die wêreldranglys beïnvloed. Met Wallis se 22-9-oorwinning teen Ierland het dit hulle bo die Bokke op die ranglys laat beland. Ten spyte van Engeland se oorwinning teen Skotland, bly die Rose in die tweede posisie agter die All Blacks. Die Britse span hou nou saam met die Kiwi's die rekord as die eerste spanne ooit om 18 agtereenvolgende oorwinnings te behaal.

Skotland, wat tans in die vyfde plek sit, beklee weer hul hoogste posisie op die ranglys ooit.

Die laaste stel toetse, wat hierdie komende naweek gespeel word, sal die spanne se posisies op die ranglys vasmaak en kan ’n impak hê op hoe die spanne gekies word vir die Wêreldbeker in 2019. Die loting vind op 10 Mei plaas.

Tien jaar gelede, na Suid-Afrika se laaste Wêreldbekeroorwinning, was die Springbokke in die eerste plek en Wallis in die tiende plek.

Bykomende bronne: News24Wire, ESPN, World Rugby