Wie sal nou nie so ’n moedige knapie geselskap wil help hou nie?

G’n wonder nie Tasmaniese toerismebeamptes het ’n bemarkingskans bespeur en spesiaal die tydelike “pos” van dié Australiese deelstaat se eerste “Chief Wombat Cuddler” geskep.

Die suksesvolle aansoeker sal vir ’n ten volle betaalde drie dag lange uitstappie na Flinders Island aangevlieg word en onder meer kan uithang saam met klein Derek, ’n wombat-wesie wie se ma doodgery is.

Kandidate moet bloot in 25 woorde aan Tourism Tasmania verduidelik waarom hulle ideaal is vir die rol van Chief Wombat Cuddler.

Derek het derduisende diereliefhebber-harte gesteel nadat ’n videogreep waarin die energieke outjie op ’n stil Tasmaniese strand rondhol, soos ’n veldbrand op die internet versprei het. Binne dae nadat die beroepsfotograaf Sean Scott sy beeldmateriaal gedurende ’n blitsbesoek aan Flinders Island van die deerniswekkende Derek op Facebook geplaas het, het 75 000 mense daarna gekyk.

Inderdaad, wie kan nou hierdie gevreetjie weerstaan? En sy strandresies, tot daar waar hy Sean inhaal en sy kop tussen sy stewels indruk, sal mense dalk aan 'n uitbundige hondjie op sy eerste staptog laat dink.

Die Wombat Cuddler-aansoeke sluit op 16 April, maar ongelukkig mag net Australiese burgers aansoek doen. Intussen het Derek eintlik geen tekort aan aandag nie. Kate Mooney, ook bekend as Tasmanië se “Wombat Lady” omdat sy al so baie van dié buideldiere gered het, maak hom hans groot. Sy het die wombat-baba in sy ma se buidelsak gevind nadat dié in Desember deur ’n motor getref is. Hy het toe net 700 g geweeg, maar wombats is eintlik die grootste van die graafdiersoorte en kan 1 m word, 25-30 kg weeg en ’n snelheid van 40 km/h bereik wanneer hulle skrik. Een van bitter min aangetekende gevalle van aggressie deur dié plantvreters jeens mense was sowat vyf jaar gelede toe ’n pensioentrekker per ongeluk op een trap. Hy het ’n paar byt- en krapplekke aan sy bene opgedoen.

Kate het al 20 jaar gelede na wombats begin omsien nadat sy ’n “joey” gekry het in die sak van ’n ma-dier wat onder ’n motor beland het. Daardie wesie het sy Batski genoem.

“Ek het intussen verslaaf geraak aan hulle,” het sy vertel. “Bloot hul geaardheid is baie deerniswekkend; hulle weet wat hulle wil hê, en as hulle iets wil doen, sal hulle dit doen . . . die stootskrapers van die natuur.”

– Richard van Rensburg

Bronne: gobehindthescenery.com.au, australiangeographic.com.au, au.news.yahoo.com, msn.com, huffingtonpost.com

Lees ook op Huisgenoot.com:

Ouma oorleef wonderbaarlik ná sy deur veiligheidshek se spitspen deurboor word

Is dit dalk beter om bles te wees?

‘Sy’t ja gesê!’: Geliefde akteur het die skoot omtrent hoog deur ná verlowing

Kyk: Kettingbotsing in China laat hoofweg soos ’n skrootwerf-nagmerrie lyk

Eksklusief: Ontmoet Koekedoor 2 se tien nuwe deelnemers