Die Bulle het die lawaaierige Haaiondersteuners se tjank afgetrap, die Leeus het goed afgereken met daai windbol Quade the Blade, die Cheetahs is deur ’n alwetende skeidsregter beduiwel, en oor die treurmare  doer onder in Canberra bly ons maar stil  . . . Huisgenoot se sportman-voor-die-TV, Gerhard Kleijn, neem bestek van die naweek se Superrugby. [caption id="attachment_70823" align="alignnone" width="600"]Illustrasie van Gerhard Kleijn voor TV met glas rooiwyn Illlustrasie: Kobus Galloway[/caption] Haaibokke en Haaibekke op Loftus

Net as ’n ou wil begin dink jy het die fynere kennis van die rugbykuns nou onder die knie, maak die naweek se Superstryde jou oë vir ’n klomp heel nuwe feite oop.

Die stryd op Loftus het ons geleer dat ’n haai se bek sommer baie groter as ’n bul s’n is en dat daardie rasieleier van formaat, Fransie Steyn, nie in Engels kan huil nie.

Waar die leërskare swartgeklede ondersteuners van Jake White se Haaibokke Saterdag op Loftus vandaan gekom het, bly ’n tergende geheim. In getalle was hulle wel net-net minder as die bloues, maar as dit skolesport was, sou hulle sweerlik die lawaaibeker gewen het. Eers hier nader aan die wedstryd se einde het die haaibekke onverklaarbaar stil geword. Dié wedstryd het ook geleer dat die Bulle nie altyd verbeeldinglose ploeter-en-wegskoprugby hoef te speel om te wen nie. Ou Bismarck (Voetup) du Plessis en sy haaie is, soos visse op droë grond, onkant betrap deur die Bulle se ongewoon ondernemende spel. Die wysheid daarvan om die wonderseun-losskakels vir eers op hold te sit, is weer bevestig. Ewe wys was dit om ’n afgetrede ou slot af te stof en as kaptein op Loftus los te laat. Altyd vir my lekker om ’n Suid-Afrikaanse span te sien wen. Veral as dit die Bulle is. Leeuplesier op Ellispark Tog het die rooi Leeus se oorwinning teen die wit Reds op die groen velde van Ellispark my skoon pienk van plesier gekielie. Lekker verby was dit om te sien hoe die Wallaby-belaaide span met daai aartswindbol Quade (The Blade) Cooper aan die voorpunt, teen ’n Springboklose Leeuspannetjie op hul baadjie kry.

Wenrugby word nie net met vernuf en spierkrag gespeel nie, maar ook met hart en volharding.

Min “kenners” het die welpies van Jaansberg ’n kans teen die Aussies se rooi gevaar gegee. En elke keer as Quade die Blade met die bal in sy ingekleurde arms deur die lyn sny vir ’n drie, moes ’n ou dink dat hier vandag ’n leeuslagting op ons wag. Maar toe kom die tweede helfte en dit brul behoorlik van leeuplesier. By ou Akkers se jong span kan almal ’n basiese rugbyles leer: Wenrugby word nie net met vernuf en spierkrag gespeel nie, maar ook met hart en volharding. ’n Pyn van ’n Argentyn in Auckland

Met die wedstryd van die stomme Vrystaatse Cheetahs teen die Blues in die verre Auckland het ’n Argentynse skeidsregter sy uiterste gedoen om te wys hy ken elke reël in die boek en daarby ’n klomp wat sekerlik nog nêrens in ’n reëlboek opgeteken staan nie.

’n Mens het naderhand amper gewens iemand wil Francisco Pastrana se knaende fluitjie vat en met mening in sy dinges opdruk. Daar waar dit in diep, donker stilte minder skade kan aanrig. Om sout verder in rou Vrystaatse wonde in te vryf het Pastrana ’n drie toegeken nadat die TV-skeidregter gesê het dit is nie ’n drie nie. En dit omdat die Argentyn blykbaar nog minder van Engels verstaan as die 15 Vrystaters op die veld. ’n Raaiselagtige geelkaart en Willie le Roux se lyf wat ’n paar keer nie so vinnig soos sy kop gedink het nie, het verder daartoe bygedra dat Bloemfontein se jagluiperds weer wenhonger gelaat is. Treurmare in Canberra

Oor die ander Suid-Afrikaanse span wat heel onder op die punteleer wankel, wil ek dié week nie veel sê nie. ’n Mens kan maar net hoop dat die sprake van moontlike winde van verandering in afrigtingsgeledere nie net nog ’n Storm in ’n teekoppie is nie.

- Gerhard Kleijn

Gerhard Kleijn, sportpraatjies Gerhard Kleijn is ’n deurwinterde joernalis en mede-eienaar en redakteur van Die Bronberger, ’n publikasie wat in die ooste van Pretoria en in Cullinan en omgewing versprei word. As jy in die Bronberg-omgewing woon, kan jy ook gerus aansluit by die Bronnie se Facebookblad. En as jy jou in daardie kontrei bevind, kan jy hier lees wat daar alles te doen is.