Die Bulle skop vir die Hurricanes, Goosen en Petoorsie blink uit in Bloem, en hoe minder oor die naweek se skeidsregters en Duane Vermeulen se lokke gesê word, hoe beter . . . ons sportman-voor-die-TV bekyk die naweek se superrugby en wys sy Hofnar van die Week aan.

Illustrasie van Gerhard Kleijn voor TV met glas rooiwyn deur Kobus Galloway DIT was ’n rugbynaweek van ampers: Amper het die Bulle die ’Canes in Nieu Seeland se Napier geklop, nog amperder het die Cheetahs in Bloem met die Chiefs afgereken en op Ellispark was die Leeus nog net amper wakker ná hulle ruskans van die vorige week. STOMME STORMERS As die Stormers se spel op Nuweland teen die ’Tahs nie ’n absolute laagtepunt bereik het nie, dan was dit sekerlik ook ’n amper. En op die kassie kon jy sien hoe die Kapenaars se afrigters elkeen amper sy eiesoortige oorval kry. Arme ou Robbie Fleck het amper elke grys haar op sy kop uitgetrek, Mathew Proudfoot het sy vingernaels amper net duskant sy elmboë afgekou en Allister Coetzee se voorkopfrons het so amper op ’n kol sy gesig ingesluk. DIE BONTSPAN STAAN BONT Die Bulle was in hul nuwe kamoefleer-truitjies in die eerste helfte amper onsigbaar op die aanval, maar het ’n gedugte verdedigingsmag gevorm. Hulle het alles wat voorkom met mening platgeloop – ongelukkig ’n hele paar keer mekaar ook, wat vir ’n ontydige besering of twee gesorg het.

En toe die Bont Bulle meer van die bal begin sien, het Hougie se geoefende skopvoet dit telkens met akkurate presiesheid in die hande van die aanvallende Hurricanes teruggesit.

[caption id="attachment_71958" align="aligncenter" width="300"]Francois Hougaard Francois Hougaard in sy bont trui.[/caption] Toe Handré Pollard die beseerde Jaques Louis Potgieter op losskakel vervang, was hy eweneens vir ’n wyle die Hurricanes se waardevolste speler met sy sinnelose balwegsmyt-skoppies. Die een keer toe Pollie van die Paarl wel die bal in die hande hou, het hy deurgesny vir ’n wonderlike drie wat amper die wedstryd vir die Bulle gewen het. Dalk moet Pollie se skopskoene weggepak en vir ’n paar permanente senter-tokse geruil word. SKOTE PETOORSIE! Goeie nuus vir die Vrystaat is dat hulle blykbaar daai sukkelende losskakel wat die Aussies en die Kiewiete “Ghoezen” noem, anderkant die waters gelos het. Saterdag was die regte Goosen terug in Bloemfontein en op skrumskakel was klein Petoorsie weer die Super Sarel van ouds wat gewys het hy hoort elke keer in die beginspan – verkieslik tot die eindfluitjie blaas. EN DAN WAS DAAR DIE SKEIDSREGTERS . . .

Ek wou nog iets sê oor die vreemdsoortige beslissings van Craig Joubert en sy twyfelagtige vertoning as skeidsregter in dié gelykopstryd, maar ek gaan nie.

Op Ellispark het Marius van der Westhuizen allermins ’n droomdebuut as fluitjieblaser in Superrugby gehad, maar die outjie toon belofte. Duidelik is hy, soos amper alle ander skeidsregters en elke ou wat rugby speel en kyk, erg verward oor die nuwe skrumreëls. Maar die een skrumreël wat maklik verstaanbaar is, is die een wat sê jy mag nie op jou opponent se arm bind en skrum nie. As jy dit doen, is dit ’n strafskop teen jou. Tog het die Crusaders se uitgeslape Owen Francks dit reggekry om met elke skrum ’n rat voor Marius se onervare oë te draai. Al vat Francks met die bindslag ’n vuisvol van die stomme Schalk van der Merwe se trui ver agter teen sy rug vas, is hy klokslag met die sakslag met die hand op Schalk se arm. Gratis wenk aan Marius: Jy sal agterkom Francks skrum onwettig as jy sien ou Schalk se aansienlike bolyf en boepens is telkens ontbloot soos Francks daardie vuisvol trui afstroop arm se kant toe, net voor die drukslag. ONS WYS AAN: HOFNAR VAN DIE WEEK

Die toekenning Hofnar van die Week gaan vandag aan die Waratahs se afrigter Michael Cheika.

[caption id="attachment_71942" align="aligncenter" width="300"]Michael Cheika Foto: Gallo Images[/caption]

Cheika het hom half simpel gelag toe die skeidsregter, Glen Jackson, ’n Waratah straf omdat hy soos ’n besetene van die kant af by ’n losgemaal inboender. Die einste Cheika wat die vorige week in die Koninkryk van Shaka glo ’n kameraman met iets ernstigs gedreig het toe die TV-man die afrigter wou afneem. Na regte behoort die toekenning Hulpnar van die Week aan die einste Jackson te gaan, omdat hy nie die verwaande afrigter se spelers met ’n volpak geelkaarte beloon het nie. Cheika se ’Tahs is toegelaat om male sonder tal ’n Stormer sonder die bal en ver agter die afbreekpunt plat te loop. En toe die jong Kebble ’n Waratah wat dit aan hom doen in eie munt terugbetaal, word Kebble gestraf. DUANE SE DAWERENDE HAARSTYL

Duane Vermeulen

Verder wil ’n mens nie veel oor die rugby op Nuweland en die stomme Stormers sê nie. Net dalk dat hulle die heel mooiste hoogskopmeisies het. En dat die instaan-kaptein, Nelspruit se Duane Vermeulen, dalk probeer om met sy weerbarstige baard en haredos die ewebeeld van ’n gevaarlike Laeveldleeu te wees, maar vir my dit regkry om by die dag ál meer na ’n mangopit-mannetjie uit sy grootwordwêreld lyk . . .

- Gerhard Kleijn

Gerhard Kleijn, sportpraatjies Gerhard Kleijn is ’n deurwinterde joernalis en mede-eienaar en redakteur van Die Bronberger, ’n publikasie wat in die ooste van Pretoria en in Cullinan en omgewing versprei word. As jy in die Bronberg-omgewing woon, kan jy ook gerus aansluit by die Bronnie se Facebookblad. Kyk in die nuutste uitgawe na verstommende foto's wat met die onlangse reën en vloede in die omgewing geneem is.