Die enigste Bul wat die naweek ’n rubgybal kon gebruik, was  ’n Leeu. En Victor Matfield was seker die eerste kantlyn-afrigter in die geskiedenis van wêreldrugby... Ons nuwe Sportpraatjies-skrywer skop sy tweeweeklikse rubriek af met ’n kykie na die naweekrugby (en teensinnig na die krieket ook).

Marnitz Boshoff en Victor Matfield

DIE groot en wyse waarheid – dat jy nie rugby sonder die bal kan speel nie – is dié naweek ’n trappie verder gevoer deur die stomme Bulls: Hulle het meesterlike bewys daarvan gelewer dat dit ewe moontlik is om ook met die bal nie rugby te kan speel nie.

In die proses is daardie ander holruggeryde wysheid, dat “balbesit alles is”, wreed nek omgedraai. Jake White se Haaibokke kon ewe goed in enige stadium van die ghym van die veld afgestap het vir ’n smoke break en die Bulls gelos het om onverrigter sake met die bal rond te karring. Dit sou waarskynlik nie eintlik ’n verskil aan die eindtelling gemaak het nie.

Nie eens die teenwoordigheid van rugby se heel veelsydigste all-rounder, oom Victor Matfield, kon ’n verskil maak nie. Ou Victor het darem vir prettige afwisseling van die treurmare op die veld gesorg toe hy wêreldrugby se heel eerste kantlynafrigter geword het. Net by laerskoolrugby sal jy so iets sien, daar waar geesdriftige en kwaai pappas knaend teen die kantlyn op en af draf om opdragte aan hul telge uit te skreeu. Ja, die veelsydige Victor Matfield: impakspeler, lynstaanspesialis, vleuel, kaptein en kantlynafrigter.

[caption id="attachment_67737" align="alignnone" width="305"]Victor Matfield teen Sharks, 15 Feb 2014 Victor, toe hy Saterdag klaar kantlyn-afrigter gespeel het. Foto: Steve Haag/Gallo Images[/caption]

En van kapteins gepraat: Het jy agtergekom Pierre (Spiere) Spies was Saterdag, ná ’n lang afwesigheid weens nog ’n besering, terug op sy pos? Niemand gaan jou kan kwalik neem as jy dit nie opgelet het nie. As dit nie was vir die keer toe die kleinste outjie op die veld die bal soos ’n oorryp perske uit daai aansienlike paar arms gepluk het en vir die kapteinsonderhoud ná die wedstryd nie, sou g’n mens geweet het Spies was nie naweek in Durban nie.

Nog iets nuuts wat ek uit die wedstryd wys geword het, is dat tatoeëermerke se ink nogal ’n aansienlike hoeveelheid moet weeg. As jy genoeg daarvan op jou linkerarm aanwend, gooi dit jou, skoon van balans af en veroorsaak dit dat jy sukkel om ordentlik met jou regtervoet te skop. Dit maak jou daarby ook stadig.

Maar, soos enige afrigter jou graag sal vertel, kan jy iets positief uit elke wedstryd haal. Die Bulls se beleërde afrigtingspan is halfpad die mas op. Hulle het die mannetjies in blou nou mooi geleer hoe om die bal in die hande te kry. Nou moet hulle net daarop voortbou: dalk nog ’n hulpafrigter iewers loop koop. Een wat die outjies kan leer wat jy met die ding doen as jy dit eers in die hande het.

En op Bloemfontein, waar die Leeus gewys het wie die koning van oerwoud en die vlakte is, het ’n outjie met die naam van Marnitz Boshoff presies geweet wat om met ’n rugbybal te doen. Sou dit dalk hierdie vreemde kennis wees wat veroorsaak het dat hy die trekpas by die Bulls gekry het?

[caption id="attachment_67736" align="alignnone" width="600"]Marnitz Boshoff van die Leeus, teen Cheetahs, 15 Feb 2013 Marnitz Boshoff in aksie die naweek. (Foto: Louis Botha/Gallo Images)[/caption]

Selfs uit die vernederende krieketpak wat Biffie en sy span teen die Aussies op die lyf geloop het, was iets positiefs te leer: Moenie ’n kaartjie vir die vyfde dag van die volgende toets koop nie . . .

Gerhard Kleijn, sportpraatjies Gerhard Kleijn is ’n deurwinterde joernalis en mede-eienaar en redakteur van Die Bronberger, ’n publikasie wat in die ooste van Pretoria en in Cullinan en omgewing versprei word. Hy gaan voortaan elke tweede Maandag (en soms meer dikwels, as die dringendheid hom oorval) vir Huisgenoot kommentaar oor die naweeksport lewer. En glo dit of nie, hy is een van die Bulls/Blou Bulle se lojaalste ondersteuners. As jy in die Bronberg-omgewing woon, kan jy ook gerus aansluit by die Bronnie se Facebookblad.