Jammer man, Bloubul-breintrust

’n Mens kan nie anders as om bitter jammer te voel vir die Bloubul-ou wat Marnitz Boshoff uit Nelspruit loop koop het toe hy nog ’n skoolseun was nie. En jy moet veral ’n diepe deernis hê vir diegene in die “Bloubul-breintrust” wat besluit het Boshoff moet plek maak vir nuwer (beter) modelle, soos Rustenburg se Fouché en Somerset-Wes se Pollard.

Siestog. Almal maak foute, maar die stomme mens(e) in beheer van die Bulle se aankoopbeursie blink die afgelope aantal seisoene daarin uit. Maar kom ons probeer positief bly: Die Bulls het vanjaar nog nie ’n tuiswedstryd verloor nie, en die kaptein het beter gevaar in Bloemfontein as verlede week in Durban. En, soos my goeie vriend ou Steelkant Snyman sê: Die bal was nat en die seisoen staan nog in sy kinderskoene. Seker maar soos die Bulls, met die uitsondering van oom Victor, ook staan. Gee kans, sê ou Steelkant. [caption id="attachment_68443" align="alignnone" width="300"]Marnitz Boshoff En om te dink Marnitz kon ’n Bull gewees het . . .  Foto: Louis Botha/Gallo Images[/caption] Jammer man, Stormers-steuners

Wie die grootste simpatie ná die naweek se huppete-stotete-rugby verdien, is sonder twyfel die derduisende Stormer-ondersteuners wat Ellispark se paviljoene streep-streep met blou-en-wit kom beklad het. Foeitog, dit moet iets alleverskrikliks wees om al die pad van die Kaap te moet reis, net om te sien hoe jou helde op Ellispark voor die hart van ’n Leeu val.

En om dan nog op die koop toe met net enkele desibelle die boe-wedstryd uit die pawiljoen te verloor wanneer ’n skopper pale toe mik, kan nie aangenaam wees nie. Veral nie as jy besef dat dit dié keer nie ’n enkele bos uit ’n Hoff kon haal nie.

Troos julle daaraan: Geen besoeker wen ’n boe-wedstryd op Nuweland nie – behalwe dalk net soms, as die All Blacks-ondersteuners uit die niet uit op Kaapstad toesak . . . [caption id="attachment_68453" align="alignnone" width="500"]Deon Fourie Ons dink aan julle, Stormer-fêns. Foto: thestormers.com[/caption] Jammer man, Biffie Stof tot diep dankbaarheid is die opperste afranseling wat die Aussies hulle in die Baai op die lyf geloop het. Jy kan dit maar ’n regte kangaroepak noem.

Die prestasie van ons Proteas is veral merkwaardig as jy in ag neem dat kaptein, Biffie Smith, met reëlmaat beslissings verwys het as hy nie moes nie en verseg het om te verwys as hy moes. Biffie se bydrae met die kolf, of liewer dan, die gebrek daarvan, laat ook te wense oor.

Maar, sê my positiewe vriend ou Steelkant, hy is ’n goeie leier en hy het ’n paar Aussies ’n ding of twee geleer oor die kuns van kougom kou.

[caption id="attachment_21397" align="alignnone" width="300"]graeme smith Ou Biffie kon die Aussies darem iets oor kougom kou leer.[/caption]

- Gerhard Kleijn

Gerhard Kleijn, sportpraatjies Gerhard Kleijn is ’n deurwinterde joernalis en mede-eienaar en redakteur van Die Bronberger, ’n publikasie wat in die ooste van Pretoria en in Cullinan en omgewing versprei word. Hy behartig ook Huisgenoot se sportrubriek, en al gaan jy dit nie altyd wil glo nie, is hy in murg en been ’n Bloubul-man. As jy in die Bronberg-omgewing woon, kan jy ook gerus aansluit by die Bronnie se Facebookblad. En sien jy heel somer lank wit vlindertjies? Lees in die nuutste Bronnie oor die roete wat hulle elke jaar van die Kaap af deur die binneland na Madagaskar volg.