“I don’t kno maybe next year December.”

Dít was Fikile Mbalula, minister van sport, se antwoord op 'n SMS Maandagmiddag toe die Olimpiese silwermedalje-wenner Sunette Viljoen se lewensmaat, LiMari Louw, hom gevra het wanneer Sunette haar bonus kry wat hy belowe het.

Mbalula het op 23 Augustus kort na die Suid-Afrikaanse span van Rio de Janeiro geland het, aangekondig medaljewenners sou tienduisende rande van die regering ontvang bo en behalwe die beloofde betalings deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese komitee (Saskok).

Dit was omdat die span “ons trots gemaak het”, het die minister tydens sy toespraak op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg gesê.

LiMari het in haar SMS om 14:12 vir Fikile gevra wanneer Sunette haar R70 000 gaan kry wat hy haar belowe het vir haar silwermedalje-wen by die Olimpiese Spele.

sms
Net meer as 20 minute later, het sy Fakile se gewraakte antwoord ontvang. “I don’t kno maybe next year December.”

Esethu Hasane, die sportminister se woordvoerder, het gesê na die Spele het medaljewenners betalings ontvang wat geborg is deur Saskok, die nasionale lottery, SAA en die departement van sport. Dié betalings is reeds aan die medaljewenners uitbetaal.

“Op die dag wat die minister die belofte aan die atlete gemaak het, was daar nog nie beplan vir die geld nie,” sê Esethu.

“Ons belowe nie vandag en betaal môre nie. Daar is eers prosesse wat gevolg moet word om die geld te kry en dit dan uit te betaal. Dié prosesse is die regering daargestel en moet gevolg word. Ons gee verantwoording van alle openbare fondse wat ons gebruik.

“Die geld is reeds aangevra en in die departement (se besit). Daar is nou net finale prosesse wat gevolg moet word voor die uitbetalings kan geskied.

“Wat onthou moet word, is dat dit nog nie eens 30 dae is sedert die minister die belofte gemaak het nie. Die departement neem gewoonlik 30 dae om verskaffers te betaal.

“Sunette sal haar geld kry. Ek dink nie dit gaan meer so lank neem nie. Beslis nie eers volgende jaar Desember nie. Sy sal dit nog die jaar kry.”

LiMari kon nie vir kommentaar bereik word nie.