Nicholis Louw se aanhangers het al baie gewonder oor dié sanger se lokke en deur hoeveel potjies jel hy moet gaan om dit op die verhoog so mooi in toom te hou. Klaarblyklik voer dié Rock Daai Lyfie-sanger ook maar ’n bitter stryd met sy boskasie.

Nicholis het verlede week ’n foto op sy Instagram-profiel gedeel van sy ongetemde hare. “Hierdie ding wat somer genoem word, is nie rêrig my ding nie,” skryf hy.

“Ek is ’n wintermens, so ek dink ek sal eerder die winter sneeu wil kry.”

Hy het vir sy aanhangers gevra hoe hy sy wilde hare kan tem, waarop sommige hom aangemoedig het om sy hare te groei.

“Groei daai hare! En in die somer gooi jy ’n 'man-bun'. Easy-peasy,” skryf een.

Maak in alle erns, hoe maak mens as jou hare graag krul of kroes?

Die stilis David Gillson, mede-eienaar van Carlton Hair in Melrose Arch, gee dié wenke:

“Verskerp jou opknappingsroetine en voeg ’n ekstra behandeling by jou was- en opknapperroetine.”

Stadig met die stilering. “Moenie jou hare soveel soos gewoonlik stileer nie en werk met seesoutsproei om daardie sexy Kate Moss-voorkoms te kry,” is David se raad.

Gebruik sonskerm wat spesiaal vir hare ontwerp word. “’n Mens kry ’n vloeibare haarserum wat sonblok bevat.” Veral blondines moet seker maak hul hare word beskerm teen die elemente. David stel voor hulle gebruik ’n silwersjampoe.

’n Sagte permanente golwing is weer in die mode. Dit is veral goeie nuus wanneer jy by die see is en jou nie hoef te bekommer oor jou andersins reguit hare wat kroes nie. David sê die golwing word met agt groot krullers gedoen en hou drie maande lank.

“Die permanente golwing was jare laas in die mode; dis nou ’n meer stranderige soort golwing.”

David raai mense ook aan om by die haarsalon ’n draai te maak vir ’n haarbehandeling.

Vir mense wie se hare geneig is om te kroes, het hy nog goeie nuus: ’n Splinternuwe soort Brasiliaanse gladstrykmetode word nou gebruik.

“Dit word anders as voorheen gedoen en is volkome veilig,” sê David. Geen formaldehied word in die proses gebruik nie.

“Die nuwe produk is vir toetse gestuur na Amerika, waar hulle bevind het dit is heeltemal veilig vir gebruik,” sê David.