Die Porsche waarin die Fast & Furious-ster Paul Walker en sy vriend Roger Rodas verongeluk het, het teen sowat 145 km/h in ’n voorstedelike straat voortgesnel toe Roger daaroor beheer verloor. So blyk dit uit wetstoepassers se ondersoek na die ongeluk in November. Die sportmotor het teen ’n lamppaal gebots met ’n spoedbeperkingsteken van 72 km/h daarop en Paul en Roger het in die brandende wrak omgekom.

'Die ondersoekers het bereken Roger het tussen 130 km/h en 151 km/h gery.'

Die ondersoekers het bepaal onveilige bestuurdery, nie meganiese probleme nie, het die ongeluk veroorsaak. So sê iemand wat insae gehad het in die Los Angeles-polisie en -verkeerspolisie se verslag. Die ondersoekers het bereken Roger het tussen 130 km/h en 151 km/h gery toe sy 2005 Porsche Carrera GT ná ’n draai onbeheerbaar begin swenk.

“Die voertuig het geen meganiese weiering ondervind nie en die skade aan die voertuig was weens die botsing,” het kenners van ongeluksrekonstruksie van die verkeerspolisie gesê. So sê die bron wat anoniem wil bly omdat die verslag nog nie amptelik uitgereik is nie.

’n Woordvoerder het Dinsdag gesê die polisie het geen nuwe inligting om uit te reik oor die ondersoek na die ongeluk op 30 November nie. “Ons sal baie binnekort iets hê,” het die polisiewoordvoerder Nicole Nishida in ’n e-pos geskryf. Die verkeerspolisie het geweier om kommentaar te lewer.

Porsche-ondersoek

Associated Press het in Desember berig ondersoekers het geen bewyse gevind dat die motor meganiese probleme gehad het nie en rommel of ander probleme met die ryvlak uitgeskakel.

Sedertdien het Porsche ingenieurs na Kalifornië gestuur om die seldsame motor se wrak te bestudeer.

Al was dit erg verwronge en verbrand, kon die ingenieurs ’n deeglike ontleding doen. Hulle het geen probleme met die motor se elektriese stelsels, remme, versneller, brandstofstelsel, stuurstelsel, vering of ander stelsels gevind nie.

Porsche het Dinsdag ’n versoek om kommentaar van die hand gewys.

Die gevolgtrekking oor die spoed is gegrond op ’n slingermerk wat die motor se band op die pad gelaat het in ’n gebied van nywerheidskantoorparke in Santa Clarita, sowat 48 km noordoos van die middestad van Los Angeles. Getuies het vir die polisie gesê hulle meen die motor het dalk vinniger as 160 km/h gery.

Die ondersoekers het verskeie kwessies uitgelig oor die toestand van die motor wat al verskeie vorige eienaars gehad het, onder andere die IndyCar-bestuurder Graham Rahal:

  1. Die oorspronklike uitlaatstelsel is op so ’n manier aangepas dat dit die motor vinniger kon laat ry, maar dit is ook moontlik gedoen om die klank te verander.
  2. Die bande was sowat nege jaar oud; die eienaarshandleiding beveel aan dat die bande ná vier jaar vervang word.
  3. Die remrotor was meer verslete as die vervaardiger se voorskrifte, maar het nie tot die ongeluk bygedra nie.

Roger (38) en Paul (40) het gou ’n draai gaan ry van ’n fondsinsamelingsgeleentheid ten bate van Reach Out Worldwide, ’n liefdadigheidsorganisasie van Paul wat eerstereaksie-noodhulp aan slagoffers van natuurrampe bied. Die ongeluk het naby die geleentheid plaasgevind en geskokte vriende van die mans het hulle na die toneel gehaas.

Roger was Paul se finansiële raadgewer en die twee het ’n liefde vir vinnige motors gedeel. Hulle was die mede-eienaars van ’n motorrenspan wat na Roger se winkel, Always Evolving, genoem is en Roger het in 2013 tydens die Pirelli-wêrelduitdaging professioneel vir die span gery.

Paul het in almal buiten een van die Fast & Furious-lokettreffers ’n hoofrol gespeel waarin kragtige motors en roekelose bestuurdery opgehemel word.

- Justin Pritchard / Sapa

Ses kitsfeite oor die Porsche waarin Paul walker gesterf het