Dit gons in die media oor die regstryd tussen die Demokratiese Alliansie (DA) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die hooggeregshof in Pretoria.

Die DA vra die hof om die NVG te dwing om die meer as 700 aanklagte van bedrog, wat pres. Jacob Zuma sedert 2005 soos ’n skaduwee volg, opnuut in te stel.

Maar wat is die bohaai oor die “spioenasiebande”?

Die saak wentel om die omstrede opnames deur die Nasionale Intelligensieagentskap wat Zuma voor sy verkiesing as president van alle aanklagte kwytgeskeld het.

Hier is wat jy moet weet:

1. Wat is die sogenaamde “spy tapes”?

Dit is geheime telefoonopnames van gesprekke tussen adv. Leonard McCarthy, destyds hoof van die Skerpioene, en adv. Bulelani Ngcuka, voormalige direkteur van nasionale vervolging.

2. Hoekom is dit enigsins relevant?

Die opnames het as bewys gedien vir adv. Mokotedi Mpshe, Ngcuka se opvolger, om in 2009 maande voor die verkiesing in Polokwane 783 aanklagte van bedrog teen pres. Jacob Zuma terug te trek. Zuma het toe die land se president geword.

3. Waar het die baie aanklagte teen Zuma vandaan gekom?

Dit spruit uit bewerings dat Zuma deur middel van sy vriendskap met die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik voordele in die omstrede wapentransaksie-skandaal ontvang het.

4. Hoekom praat ons nog daaroor?

Die DA het vyf jaar lank in die howe baklei om dié opnames te bekom om te bewys dit het geen betrekking daarop gehad om die aanklagte teen Zuma te laat vaar nie. Dit het die DA sowat R10 miljoen gekos om die opnames te bekom. Zuma self het sowat R10 miljoen belastingbetalersgeld bestee om dit te keer.

5. Wat nou?

Die DA sê die NVG vandeesweek die stryd aan in die hooggeregshof in Pretoria om die NVG te dwing om die aanklagte weer teen Zuma in te stel. Dit kan natuurlik groot gevolge vir die vertroue in die NVG inhou asook vir Zuma, sou hy weer aangekla en eindelik wel skuldig bevind word.

Bronne: Beeld; Mail & Guardian

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Ons kruip weg vir veiligheidspolisie,’ vertel vasgekeerde SA gesin angsbevange uit Oman

Talle diere vrek ná hul vergiftigde karkas in Krugerwildtuin vreet

Jong en gewilde sport aanbieder dagvaar vir miljoene oor naakvideo

Internet gaande oor hondjie met draadjies

Pragfoto’s: ‘Hougie is romanties verby,’ verklap die Blitsbok se nuwe liefie

Slegte nuus vir spoedvrate wat boetes ontduik

Het ons bewyse van lewe daarbuite gevind?