Dit is ’n saak wat die land se verbeelding aangryp en soos ’n speurverhaal in hoofopskrifte afspeel: ’n Laatnag gerinkink in ’n spoghotel in die Stellenbosse wynlande, ’n aantreklike ma van drie se oënskynlike selfdood, ’n eiendomsmagnaat en sy beweerde skelmpie en eindelik – ’n beweerde moord in die vroeë oggendure.

In die beskuldigdebank in die Stellenbosse landdroshof staan Jason Rohde, die grootbaas van Lew Geffen Realty Franchise, tereg op die moord van sy vrou, Susan.

Lees ook: Top-10-dinge wat jy oor Jason Rohde se eerste dag in die hof moet weet

Wat op die oggend van 24 Julie na ’n tragiese selfdood gelyk het, is omgekeer toe patoloë bevind het ’n haartang se koord is ná Susan se dood om haar nek gesit. Jason is toe verlede Dinsdag vir die moord op sy vrou en die ma van hul drie kinders in hegtenis geneem.

Terwyl Jason se aansoek om borgtog sukkel-sukkel aan die gang kom en hy Dinsdag weer voorkom terwyl die staat vir uitstel gevra het om sekere aspekte rondom die moord verder te ondersoek, het Huisgenoot by ’n regskenner aangeklop om te hoor hoe dié saak verder sal verloop:

Wat gaan aan met die borgtogaansoek?

“In dié stadium word die aansoek om borg nog hanteer om te bepaal of hy vrygelaat sal word of in aanhouding moet bly hangende die afhandeling van die verhoor,” verduidelik Niel Smith, ’n direkteur van die Kaapse prokureursfirma Enderstein van der Merwe.

Die staat doen tans navraag oor reisdokumente wat dalk uitgereik is en of enige van die skatryk sakeman se geld oorsee is om te bepaal of hy ’n vlugrisiko is. Hulle wag ook op die uitslae van verskeie forensiese toetse.

Hoe sal die staat hul saak bou?

In die geval van Susan se beweerde moord, sal daar waarskynlik onvoldoende of min direkte getuienis wees; dit beteken daar sal nie noodwendig ooggetuies wees wat die gebeure gesien het of vingerafdrukkke op ’n moontlike moordwapen nie, verduidelik Niel.

Die staat voer aan Susan is vermoor en dat sy nie haar eie lewe geneem het nie, en daarom sal hulle sterk op mediese getuienis moet steun om hul saak te bewys.

Omstandigheidsgetuienis sal waarskynlik ook ’n groot rol in die staat se saak speel – getuienis wat hom moontlik op die beweerde moordtoneel plaas, bewyse van ’n vermeende bakleiery tussen die paartjie en relevante e-pos, SMS-boodskappe en ander dokumente wat ’n moontlike motief sal uitlig.

Watter rol sal forensiese getuienis speel?

Pete Mihalik, die gesoute Kaapse advokaat wat Jason se verdedigingspan van vyf lei, het reeds aangedui ’n patoloog wat hul ingespan het om ook ’n nadoodse ondersoek op Susan uit te voer, meen dié ma van drie het wél haar eie lewe geneem.

“Forensiese getuienis is deel van omstandigheidsgetuienis en alhoewel dit baie belangrik is, speel ander getuienis en faktore ook ’n rol,” sê Niel en voeg by dat die verdediging in dié spesifieke geval hul patoloog (of ander mediese kenners se getuienis) sal gebruik om die staat se weergawe af te skiet.

“As die staat nie bo redelike twyfel kan bewys dit was nie selfdood nie of dat daar nie ’n ander oorsaak vir haar dood was nie, sal hulle nie ’n skuldigbevinding kry nie.”

Lees ook: Sal Jason Rohde nóg ’n week in polisie-aanhouding deurbring?

Watter soort getuies sal die staat roep?

’n Patoloog om oor die nadoodse ondersoek te getuig, ’n DNS-spesialis, ’n vingerafdruk-kenner, ’n IT-deskundige om oor die selfoon- en skootrekenaardata te getuig, ’n forensiese wetenskaplike wat bloedspatsel-ontleding doen, ooggetuies wat ander gaste en hotelpersoneel kan insluit, sielkundige getuienis oor haar gemoedstoestand, vriende en familie wat oor Susan se karakter getuig en ook ’n forensiese rekenkundige wat die man en vrou se geldsake sal bekyk om te kyk of daar moontlik ’n finansiële motief vir die moord was.

Hoe sal Jason se regspan hom voorberei vir die verhoor?

“Hulle sal waarskynlik soveel as moontlik tyd saam met hom deurbring om hom so goed as moontlik voor te berei,” glo Niel. “Hulle sal aan die een kant fokus op die ondervraging van getuies, maar ook aan die ander kant op die relevante regsbeginsels wat hul moet bewys.”

Boonop moet hul tyd inruim vir genoegsame konsultasies met die ekspert-getuies.

Jason se regspan kan hom voorberei op die tipe vrae wat hy kan verwag en wat sy antwoorde daarop is, maar hulle kan hom nie voorskryf wat om te sê nie. Tog, meen Niel, het elke regsmens sy eie manier van doen – dit sal dus van sy span afhang.