Die 47-jarige pa van drie is verlede Dinsdag vroegoggend by sy luukse huis in Bryanston in verband met die moord op sy vrou, Susan (45), in hegtenis geneem.

Susan is op 24 Julie vanjaar dood in die badkamer van ’n spoggerige Spier-hotelkamer in die Stellenbosse wynlande aangetref. Dié tragedie is eers as selfdood bestempel, maar na ’n nadoodse ondersoek het die polisie hul visier op haar miljoenêr-man gerig en die staat wil hom vir haar moord vervolg.

Teen Vrydag het Jason se borgtogaansoek nog nie begin nie, omdat die staat uitstel gevra het vir verdere ondersoek: Hulle wag onder meer op die uitslag van DNS-toetse, ’n bloedspatselverslag, selfoon- en internetontledings, inligting van die Reserwebank oor Jason (wat glo sowat R30 miljoen sterk is) se geldsake en verdere detail oor Susan se geestesgesondheid.

Lees ook: Top-10-dinge wat jy oor Jason Rohde se eerste dag in die hof moet weet

Adv. Pete Mihalik, wat Jason se regspan lei, was ontevrede met die staat se versoek en het gesê die staat se saak is slegs op die nadoodse ondersoek – waarin bevind is ’n haartang se koord is eers ná haar dood om Susan se nek gedraai – gegrond. “Die staat moet bewys hulle het ’n moordsaak,” het Pete gesê.

Hy het boonop daarop gehamer dat Jason en sy dogters se lewens reeds vernietig is. “As jy Jason se naam Google, kom ‘vroue-moordenaar’ op,” het Pete in die hof gesê.

Jason het Vrydag moeg gelyk, maar meestal net voor hom gestaar. Hy was in dieselfde klere as waarmee hy die vorige dag in die hof verskyn het. ’n Man wat die aand voor Jason se eerste hofverskyning saam met hom in die Stellenbosse polisieselle opgesluit was, het eksklusief aan Huisgenoot vertel dat Jason dié nag glad nie kon slaap nie.

Lees ook: Selmaat vertel oor sy nag saam met Jason Rohde

“Hy het gesê hy is vir ’n beweerde moord in hegtenis geneem en het baie hartseer gelyk,” het die jong man wat saam met Jason en een ander persoon aangehou is, vertel. Hy het gesê Jason was baie aangenaam en het Engels met ’n bietjie Afrikaans tussendeur gepraat.

“Ons wou nie uitvra oor sy vrou nie, maar hy het gesê hy mis sy drie dogters en is bekommerd oor hulle,” het die jong man bygevoeg. Jason se dogters is glo nog in Johannesburg in die toesig van hul grootouers.

Jason het glo kos en sigarette by hom gehad en dit met sy selmaats gedeel.

Landdros Greg Jacobs het Vrydagmiddag die staat se aansoek om uitstel vir verdere ondersoek toegestaan en besluit dat Jason in aanhouding moet bly.

Die borgtogaansoek gaan môre voort.