Die Sotheby's grootbaas, Jason Rohde, is vandag (Dinsdag) borgtog toegestaan. “Ja, hy gaan vandag huis toe,” het ’n sigbaar verligte adv. Pete Mihalik, wat Jason verdedig, buite die hof gesê. Jason, wat uitdrukkingloos voor hom uitgestaar het, staan tereg op die moord op sy vrou, Susan, wie se lyk einde Julie op die spoglandgoed Spier gevind is. Die egpaar was op die landgoed buite Stellenbosch vir Sotheby's se jaarlikse konferensie. Die staat beweer sy is met die kaal hande verwurg terwyl Jason se span sê sy het haar eie lewe geneem.

1. Jason moes vandag R100 000 betaal en sy regspan moet teen 14 September dokumente by die hof ingee wat sekerheid van R1 miljoen gee, sou hy sy voorwaardes verbreek.

2. Die saak is uitgestel tot 23 September, wanneer die landdros sal beslis of Jason na Johannesburg mag terugkeer terwyl hy wag vir die saak om voort te gaan. Jason se span vra dat hy daar mag tuisgaan omdat sy drie kinders en werk daar is. Die staat het ook tot dan tyd om die res van sy ondersoek te voltooi.

Lees ook: Selmaat vertel oor sy nag saam met Jason Rohde

3. Streng voorwaardes is intussen opgelê. Jason woon tot die volgende hofverskyning op 23 September by sy swaer in die Wes-Kaap en moet drie keer per week by die polisiekantoor in Melkbosstrand aanmeld. Hy mag intussen nie aansoek doen om enige nuwe reisdokumente nie en ook nie oor die saak praat met enige kollegas wat ook getuies is nie.

Lees ook: Jason Rohde stel in sy eie woorde sy kant van die saak

4. Jason se regspan het gevra dat die staat verslae in sy besit, onder meer dié van die nadoodse ondersoek, wat glo beweer Susan is voor haar dood geskop en geslaan, aan die verdediging bekendmaak. Die landdros het dit nie toegestaan nie, omdat die staat nie verplig is om dit te oorhandig nie. Die staatsaanklaer, adv. Carine Teunissen, het beklemtoon dat hulle dié verslae slegs hoef te oorhandig “as die staat ’n swak saak het”.

5. Die landdros het beslis dat die lys staatsgetuies nie aan die media bekendgemaak mag word nie. Die staat het ook bevestig dat Jason van ’n bylae-vyf-misdryf aangekla word en nie ’n bylae-ses-misdryf nie. Vyf sluit moord in terwyl ses moord met voorbedagte rade insluit.