Jason Rohde “se lewe is verwoes” het die grootbaas van Sotheby’s se regsverteenwoordiger Donderdagoggend in die landdroshof op Stellenbosch gesê. Hy word aangekla van die moord op sy vrou, Susan, op die spog-wynlandgoed Spier buite dié universiteitsdorp.

Jason het in ’n dik reënbaadjie verskyn met ’n strak uitdrukking op sy gesig.

Sy regsverteenwoordiger het ’n verklaring van Jason voorgelees waarin hy onthul hy en sy vrou het vir huweliksberading gegaan en dat die berader gemeen het sy is ’n risiko vir selfdood.

Die staat het gevra dat die borgaansoek uitgestel word omdat hulle meer tyd nodig het om ’n forensiese verslag voor te berei. Die staat beskik ook oor beperkte hulpbronne, wat sake bemoeilik.

Jason se regsman het die aansoek egter teengestaan en gesê hy gee sy volle samewerking aan die owerhede; sy paspoort is by die polisie ingedien en hy het alle wagwoorde vir selfone en ander toerusting aan die ondersoekspan gegee. Die verdediging het bygevoeg die misdaadtoneel kon moontlik besoedel gewees het omdat dit in ’n stadium onbewaak deur die polisie gelaat is.

Die volgende stap was vir Jason om aansoek te doen om borgtog. “Selfs Henri van Breda het die geleentheid gehad om homself oor te gee. Jason is voor sy dogters in hegtenis geneem.”

Die regter het egter nie borgtog vir Jason toegestaan nie en die saak is tot Vrydag uitgestel.

Volgens Jason se verklaring het hy as uitvoerende hoof R110 000 per maand verdien. Afgesien daarvan het hy maandeliks R45 000 ontvang vir ’n besigheid wat hy begin het sowel as sowat R180 000 per jaar in dividende.

Die spoghuis waarin Jason en Susan gebly het, was glo in haar naam. Hierdie huis in Bryanston, Johannesbrug, ter waarde van R9,5 miljoen, het nog ’n uitstaande paaiement van R2,5 miljoen gehad, maar hy beweer hy was verantwoordelik vir die betaling daarvan.

Dis nie die enigste voorbeeld van die Rohde-gesin se weelde en rykdom nie. Sy gesin besit ook ’n vakansiehuis in Plettenbergbaai, ter waarde van R2.2 miljoen.

’n BMW wat in sy naam geregistreer was, het ’n uitstaande bedrag van R1 miljoen wat hy nog aan die bank skuld. Die Mercedes waarmee sy vrou gery het, en wat in haar naam geregistreer is, het óók ’n uitstaande bedrag van R425 000 daarop.

Jason het ook nog ’n bankrekening in Australië met ’n bedrag van R161 169 ($15 000) daarin. Hy sê ook hy besit verskeie entiteite in trustrekeninge en eiendomme wat meer as R20 miljoen werd is.